GEORGE RUGBY NUUS - Dis nie almal wat kan sê dat hulle al die trui van die Britse en Ierse Leeus vir 'n amptelike wedstryd aangetrek het nie. Nog minder kan sê dat hulle in hul eerste wedstryd vir die span 'n drie gaan druk het.
Iemand wat dit wel kan sê, is Duhan van der Merwe wat Saterdag 26 Junie 'n droom-debuut vir die Britse en Ierse Leeus teen Japan gemaak het.
Die Suid-Afrikaans gebore Van der Merwe kom oorspronklik van George en het sy skoolloopbaan in 2013 aan Hoërskool Outeniqua voltooi. Sy ouers, Alhan en Dulene van der Merwe en sy tweelingsussie, Simoné, woon steeds in George. Sy ouer broer, Armand, wat ook van George kom, het al vir die Springbokke uitgedraf.
Net soos Duhan destyds op Outeniqua se rugbyveld die skare op hul voete gehad het, het hy dit Saterdag weer gedoen. Die keer op Murrayfield in Edinburgh, Skotland.
Hy het Maandag saam met die Leeus in Suid-Afrika aangekom vir die span se toer en vir die volgende paar weke is sy geboorteland weer sy tuiste.
Dulene het Dinsdag gesê sy is supertrots op Duhan. "Ons het Saterdag na die wedstryd deur middel van Zoom gekyk hoe hy sy hoedjie (cap) ontvang as 'n speler van die Britse en Ierse Leeus."
Die familie is baie bly dat Duhan in die land is. Dit lyk nie of toeskouers by wedstryde toegelaat gaan word nie en hulle sal dit dus op televisie volg.
Piet Cloete, adjunkhoof sport van Hoërskool Outeniqua, het gesê Van der Merwe het 'n baie goeie debuut in die Leeu-trui gehad. Cloete ken Van der Merwe baie goed. Hy het hom destyds afgerig vandat hy in gr. 8 by die skool gekom het en het ook vir hom klas gegee in besigheidstudies.
"Dit was lekker om te sien hoe druk hy 'n drie. Ons hou regtig styf duim vas dat hy die beginspan van die Leeus sal haal sodat hy teen die Springbokke kan speel."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'