GEORGE RUGBY NUUS - Dis oorlog. Om te sê Evergreens en Crusaders "speel" Saterdagmiddag in die Mic Fin Premierliga-eindstryd op Outeniquapark teen mekaar, is 'n onderbeklemtoning van dié riller wat voorlê.
Die stryd tussen die SWD se twee rugbyreuse verdwerg alle ander sport en vir rugbyliefhebbers in die Suid-Kaap sal niks anders Saterdagmiddag saak maak nie.
Die opbou na die eindstryd het verlede Saterdag al begin net ná afloop van die twee halfeindstryde toe Evergreens vir Progress uitgeskakel en Crusaders met Heidelberg afgereken het. Natuurlik was dit die week die warmste besprekingspunt op almal se lippe.
Nou is die oomblik van waarheid enkele dae weg. Nie een van die twee spanne sal opdraf as volslae gunstelinge nie. Daarvoor was die wedywering tussen hulle vanjaar net te straf. Dis 'n wen elk in die twee kragmetings vanjaar.
Dis twee bulspanne wat mekaar goed ken en deeglik bewus is van hul onderskeie sterk- en swakpunte. Met agt oudspelers van Evergreens wat nou vir Crusaders uitdraf, het hulle dalk 'n klein voorsprong.
Maar Crusaders, wat in sy eerste eindstryd in 16 jaar uitdraf, se groot grofgeskut lê in die sterk groep leiers in sy span.
Ricardo Beukes, hoofafrigter van Crusaders, het aan die George Herald gesê nadat Crusaders verlede jaar in die halfeindstryd uitgeskakel is, het die ringkoppe van die klub 'n indaba gehou om vas te stel wat verkeerd geloop het. "Ons het 'n duidelike leemte geïdentifiseer wat betref sterk leiers met ervaring en onmiddellik werk gemaak daarvan. Nou sit ons met minstens sewe senior spelers in die span wat vir Layle Delo as kaptein kan bystaan. Onder hulle is staatmakers soos Christo du Plessis en Wayne Kahn, wat al albei vir die SWD Arende uitgedraf het.
"Met sulke ervare spelers in die span kon Crusaders vanjaar koelkop bly en berekende besluite onder druk neem."
Beukes sê Crusaders is geseënd dat hy in sy beskikbare 22-tal in elke posisie spelers het wat op dieselfde vlak kan speel. "Ons sukses word nie aan individue gekoppel nie, maar aan die span as geheel. En dis hier waar ons groep leiers as 'n verlengstuk dien om die afrigters se besluite op die veld af te dwing."
Beukes sê wat Evergreens gevaarlik maak is dat hy 'n vyfmalige wenner is van die Premierliga en dus die drukkokersituasie van 'n eindstryd deeglik verstaan. "Evergreens het nie swak plekke in sy mondering nie en hy is 'n gedugte kalant op die veld."
Evergreens se breier, Granville Campher, sê een van die redes vir die sukses van sy relatiewe jong en onervare span is dat hulle elke wedstryd aangepak het sonder om te dink aan 'n plek in die uitspeelrondes of 'n moontlike eindstryd. "Ons het net probeer om elke week te verbeter, op en van die veld. Dit was ons mikpunt. Ons het vanjaar nooit in enige van ons wedstryde 'n beste voor- of agterspeler aangewys nie.
"Ons het 'n sterk geloof in mekaar en was bereid om, as dinge geknor het op die veld, diep in die donker te delf."
Twee van die skerpste pyle in albei spanne se vol kokers, is natuurlik hul skerpskutters op wie se skopskoene hulle Saterdagmiddag gaan staatmaak. Leegan Moos is 'n rots op heelagter en hy korrel selde mis vir Evergreens. Gladwell Jafta is net so dodelik as hy aanlê pale toe en op die aanval kan hy enige verdediging aan flarde skeur.
Gooi nou bulle soos Freginald Afrika, Llewellyn Treurnicht, Buran Parks - almal van Evergreens - en Crusaders se tawwe tienies Arden Wesso, Christo du Plessis en Solomon Manxodidi in dié poel, en jy verstaan waarom die grasoppervlakte op Outeniquapark platgetrap gaan word.
Agterlangs is daar by albei spanne natuurlike flair, vaardighede en bekwame spoed om veral uit gebroke spel dodelike teenaanvalle te loods. Net die driekwarte alleen kan jou vir 80 minute besig hou.
Jy kan jou vingers lelik verbrand as jy 'n weddenskap op een van die twee spanne wil plaas.
Wat wel duidelik is, is dat die span wat die druk die beste gaan absorbeer en verplaas, hier die oorhand gaan kry. Dit sal ook slim besluite, 'n hoë werkverrigting, akkuraatheid, dodelike verdediging en, die belangrikste: ysere dissipline vir 80 minute verg.
Aptekers in George moet maar hul voorraad pille en stropies vir erge sooibrand, hees kele en onegalige hartkloppings aanvul.
Dodelik op die aanval en hy korrel goed pale toe. Crusaders sal swaar leun op sy losskakel, Gladwell Jafta in Saterdag se Premierliga-eindstryd.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'