GEORGE NUUS - Jy sou ver moes gaan soek om Saterdag 13 November 'n trotser ma as Dulene van der Merwe te kry. Sy het die rugbytoets tussen die Springbokke en Skotland op Murrayfield in Edinburgh bygewoon om te kyk hoe haar seun, Duhan vir Skotland uitdraf.
Duhan kom oorspronklik van George. Sy ouers, Alhan en Dulene van der Merwe en sy tweelingsussie, Simoné woon steeds hier. Hy het sy skoolloopbaan in 2013 aan Hoërskool Outeniqua voltooi en dit is waar sy rugbytalente raakgesien is.
Duhan het onlangs aan Nika Badenhorst verloof geraak en sy het ook Saterdag se toets bygewoon. Sy het al 'n tydjie gelede by hom in Edinburgh, Skotland aangesluit, maar hulle het intussen na Worcester, Engeland verhuis waar Duhan vir die Worcester Warriors speel.
Dit gaan baie goed met Duhan en Nika en hulle het 'n huis gekoop en trek eersdaags in.
Ongelooflike atmosfeer
Dulene het Maandag aan George Herald gesê dit was die eerste keer dat sy 'n toets waarin Duhan speel bygewoon het. Hy was vroeër vanjaar deel van die Britse en Ierse Leeus se toetsspan wat teen die Springbokke gespeel het, maar toeskouers is nie toegelaat nie. Volgens haar was die atmosfeer Saterdag op Murrayfield ongelooflik. Dit was 'n belewenis om die Flower of Scotland te hoor met die doedelsakke en byna 65 000 mense in die stadion.
Dis iets wat sy altyd sal onthou
Duhan het goed gedoen in die wedstryd met sterk lopies en het 'n hand in van die drieë wat gedruk is. Iets wat haar opgeval het is die respek van die publiek as die skopper pale toe moet skop. Daar was ook baie Suid-Afrikaanse ondersteuners.
LEES MEER: Duhan gee 'n leeu-trui vir Hoërskool Outeniqua
Sy is baie trots op Duhan en dis lekker om te sien hoe Suid-Afrikaners sowel as Skotte trots is op hom.
Nika Badenhorst wens Duhan geluk na die toets.
Ook by Armand se wedstryd
Tydens haar huidige besoek aan die Verenigde Koninkryk het sy reeds die geleentheid gehad om weer 'n wedstryd van Armand, Duhan se ouer broer, by te woon. Armand het ook al vir die Springbokke uitgedraf.
"Vir die eerste keer in langer as twee jaar kon ek langs die veld staan en een van sy wedstryde bywoon. Hy het gelukkig ook 'n drie gedruk. Hy speel fantastiese rugby en niks was weer so lekker soos om hom te sien speel nie. Die Sale Sharks ondersteuners in Manchester love hom."
Alhan, Armand en Duhan se pa kon ongelukkig nie nou gaan nie en sal hopelik later die Ses Nasies bywoon. Tydens haar besoek het sy absoluut nuwe respek vir rugbyondersteuners daar gekry.
"Dit is yskoud en dit reën, maar ondersteuners kom nog steeds pawiljoene toe. Dis heerlik om by die kinders te wees en ek word gruwelik bederf."
Dulene van der Merwe (links) by Nika Badenhorst (Duhan se verloofde) en Duhan.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'