Gallery
GEORGE NUUS - Twee pragdrieë deur die oud-Arend, Layle Delo (loskopstut) en kaptein van Crusaders, het Saterdagmiddag vir Maori's op die Parkdene-sportterrein gekelder.
Crusaders, wat verlede week onverwags teen Heidelberg vasgeval het, het 'n volpunte oorwinning van 22-18 behaal. Rustyd was hul reeds met 10-8 voor gewees.
Dit was 'n wedstryd wat in 'n goeie gees gespeel is. Crusaders se pak voorspelers het baie druk op die besoekers geplaas. Alhoewel die wenspan gebiedsvoordeel geniet het in die eerste helfte, het hanteerfoute en verkeerde opsies hul amper duur te staan gekom.
In die tweede helfte het die wenspan se plaasvervangerbank die verskil gemaak. Veral Dean Hopp (stut) en Arden Wesso (slot) was uitstaande toe hul speelkans gekry het.
Sambelo Sam (agtsteman), Freginald Africa (flank), Leon Killian (slot) en Tami Hixlante (vaskopstut) was Crusaders se ysters voorlangs. Veral Hixlante, wat aangewys is as speler van die wedstryd, het 'n barshou gespeel.
Cuan Belelie (losskakel) was agterlangs die wenspan se groot generaal. Hy het met taktiese skoppe en goeie balverspreiding baie druk op die besoekers geplaas.
In die middelveld het Curtley Scheepers (buitesenter) van Crusaders 'n skitterende drie onder die pale afgerond. Hy is 'n talentvolle speler wat nog diep spore kan trap in SWD-rugby.
Die oudleerder van PW Botha-kollege, wat 'n oog vir 'n gaping het, se verdediging was rotsvas. Die vleuels, Sedric Esau en Rico Africa het in die aanval en verdediging geskitter. Maori's het met pragtige hardlooprugby die skare op hul voete gehad. Charl Jan Payle (slot) is binne die eerste minuut oor vir 'n drie nadat Selwyn Jakobs (regtervleuel) die bal deurgeskop het.
Jacobs was ongelukkig om nie net na rustyd hul tweede drie in die hoekie te druk nie. Skitterende verdediging deur Scheepers het verhoed dat hy die drie kon afrond. Die besoekers se opwindende heelagter, Cedrick Ryneveldt, is in die doodsnikke oor vir 'n drie. Hul senterpaar Alton Tarentaal, Denwell Remas en Eben Moos (linkervleuel) het die oog gevang met hul spoed. Voorlangs het Shushane Wesso (flank en kaptein), Sivuyile Mabulu (vaskopstut) en Thamsanqua Jantjies (plaasvervanger haker) die vonk verskaf.
Die wedstryd tussen die twee bulspanne, Barbarians en Progress, het op die D'Almeida-sportterrein met 14 elk gelykop geëindig.
Oswill Nortje (skrumskakel) en Brianton Booysen (haker) het vir die manne van Progress gaan druk. Fizel Fredericks (linkervleuel) klits 2 doelskoppe oor.
Vir die tuisspan is Kervin Taute (buitesenter) oor vir 2 drieë. Wahlon Anthony (heelagter) klits die 2 doelskoppe oor.
Evergreens het vyf pragdrieë gedruk in hul klinkende oorwinning van 36-29 oor Groot-Brakrivier op die Pacaltsdorp-sportterrein.
Luciano Jones, Marshall Boesak, Gerschwin Muller, Kerwin Appollis en Isaac Treurnicht het vir die wenspan gaan druk. Leegan Moos slaag met 'n doelskop en 'n strafdoel.
Silver Stars het die krane behoorlik oopgedraai in hul volpunte oorwinning van 43-25 oor Blanco op hul tuisveld.
Silver Stars se drieë is deur Grant Scott (heelagter), Shadrack Claasen (linkervleuel), Clint Damons (losskakel), Henwico Stal (skrumskakel), Franklin James (stut), Ashwin Scott (binnesenter) en Earl Rouls (regtervleuel), gedruk. Stal slaag ook met
3 doelskoppe en Neillin Scott (plaasvervanger-heelagter) klits ook 'n doelskop oor.
Bridgton het Saterdagmiddag op sy tuisveld in 'n naelbytstryd vir Heidelberg met 24-22 geklop.
Rhupino Plaatjies (plaasvervanger) het die wendrie in die doodsnikke van die wedstryd gedruk. Ganfried May (heelagter) het die wenspan se ander drie gedruk. Keanin Esau (skrumskakel) klits 'n doelskop en 3 strafdoele oor en Vanchenzo slaag ook met 'n strafdoel.
Gursh van Rooyen (linkervleuel), Marcelino Manho (loskopstut) en Jason Liebenberg (losskakel) het vir Heidelberg gaan druk. Corbin Swartbooi (heelagter) slaag met 2 doelskoppe en 'n strafdoel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'