Gallery
GEORGE RUGBY-NUUS - Twee pragdrieë deur Charlie Ewerts (linkervleuel) en 19 waardevolle punte deur Keanin Esau (heelagter), wat 'n drie, vier doelskoppe en twee strafdoele insluit, het 'n groot bydrae gelewer dat Bridgton Sondagmiddag vir Progress gekelder het.
Bridgton het die onoorwonne Progress voor 10 000 toeskouers met 39-32 geklop. Rustyd was die tuisspan reeds met 12-10 voor gewees.
Die wedstryd wat 'n goeie advertensie vir die krag van klubrugby was, was 'n hoofvoorwedstryd vir die SuperSport -uitdaagreeksfinaal tussen Griekwas en Pumas op die Bridgton-sportterrein op Oudtshoorn en is regstreeks op SuperSport gebeeldsend.
Vir Bridgton, wat tans die sewende posisie op die punteleer beklee, wag daar nog 'n paar harde neute om te kraak om die uitspeelrondes te haal.
Blaine James (agtsteman) en Bradwin Wanies (regtervleuel) het ook vir die wenspan gaan druk. Vir die besoekers is Christo du Plessis (agtsteman, 2), Fizel Fredericks (linkervleuel), Clinton Wagman (regtervleuel) en Justin Levendal (slot) oor vir drieë. Cameron Lentoor (heelagter) slaag met twee doelskoppe en 'n strafdoel.
Die bulspan van Crusaders het Saterdagmiddag vir Heidelberg op die Rosemoor-sportterrein met 'n volpunte oorwinning van 40-25 geklop.
Die wedstryd, wat deur 'n groot skare bygewoon is, het gewis aan al die verwagtinge voldoen met beide spanne wat die bal lustig rondgegooi het.
Crusaders lê nou in die derde posisie op die punteleer met 49 punte.
Declan Coetzee, slot van Crusaders, storm af op die Heidelberg-heelagter, Corbin Swartbooi (regs).
Die nuweling, Heidelberg, verdien 'n pluimpie vir hul rotsvaste verdediging en die karakter wat hul getoon het om in die doodsnikke van die wedstryd 'n bonuspuntdrie te druk. Swak skopwerk pale toe in die winderige omstandighede het hul duur te staan gekom.
Heidelberg, wat afskuif na die vierde posisie op die punteleer met 47 punte, se paadjie na die uitspeelronde lyk al moeiliker. Hul moet nog vir Bridgton (tuis), Progress (tuis) en op 11 Augustus vir Evergreens op die Pacaltsdorp-sportterrein die stryd aansê.
Crusaders het soos gewoonlik die tweede helfte weer met 'n groot aanslag gekom en moes die besoekers keer vir al wat hul werd is.
Die wenspan se plaasvervangersbank het net na rustyd weer 'n groot verskil gemaak.
Vir die wenspan het die 19-jarige Curtley Scheepers (plaasvervanger-heelagter), Liwando Maxeka (haker), Damian Cedras (plaasvervanger-skrumskakel), senterpaar, Jayden Onkers en Elroy Havenga, Lyle Delo (kaptein) en Dean Hopp (stutte) en die losvoorspelers, Dumisani Meslane en Bongani Ncqolombe uithalerspel gelewer.
Die oud-Arend, Lyndon Hartnick (agtsteman), Marcel Marais (skrumskakel),Simon du Toit (slot), Gursh van Rooyen (plaasvervanger-linkervleuel), Corbin Swartbooi (heelagter), Francois Peters (linkervleuel) en senterpaar, Anrich Manho en Marquit September, was Heidelberg se beste spelers.
Sabelo Sam (agtsteman), Arden Wesso (slot), Dean Hopp (vaskopstut), Bongani Ncqolombe (plaasvervanger-flank) en Jayden Onkers (buitesenter) is vir die wenspan oor vir drieë. Henry Wolhuter (losskakel) slaag met drie doelskoppe en drie strafdoele.
Die 19-jarige Curtley Scheepers, plaasvervanger-heelagter, ontduik 'n Heidelberg-verdediger met sy spoed.
Heidelberg se drieë is deur Marquit September (buitesenter, 2), Fernold Buis (linkervleuel), Marcelino Meyer (plaasvervanger-flank) gedruk. Marcel Frans (skrumskakel) slaag met 'n doelskop en Corbin Swartbooi (heelagter) klits 'n strafdoel oor.
Barbarians se spoedvraat, Curshwon Mono (linkervleuel), het die groot skare op die D'Almeida-sportterrein op hul voete gehad met sy driekuns.
Die tuisspan het met die wegholoorwinning van 66-22 oor Maori's vir hom 'n tuiswed-stryd verseker in die uitspeelrondes. Hul is nog tweede op die punteleer met 59 punte.
Whalon Anthony (heelagter), Jose Petersen (buitesenter), Macdelin Saayman (losskakel), Emile Moolman (agtsteman), die flanke Morne Makwayi en Danny Amsterdam, Fernando Fourie (slot). Saayman slaag ook met agt doelskoppe.
Evergreens het 11 drieë gedruk in hul oortuigende oorwinning van 69-11 oor Blanco op die Pacaltsdorp-sportterrein.
Alhoewel die wenspan die vyfde posisie op die punteleer beklee met 44 punte, is hulle 'n groot gunsteling om die uitspeelrondes te haal.
Marshall Boesak (buitesenter, 2), C-Than Moos (losskakel), Daylin Moos (skrumskakel, 3), Gershwin Muller (agtsteman, 2), Anvor Prins (loskopstut), Danlynne Schericka (plaasvervanger-haker), Rudi Michaels (plaasvervanger-skrumskakel). Moos slaag ook met vier doelskoppe, Nathan Beukman (linkervleuel) met 'n doelskop en Chadley Stride (heelagter) klits twee doelskoppe oor.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'