RUGBY NUUS - Groot-Brak het Robertson in die openingsronde van die African Rainbow Community (ARC) Goue Beker-toernooi met 'n indrukwekkende oorwinning van 48 - 27 geklop. Hulle draf Saterdag 28 September uit teen Capital Legacy Crusaders in Durban.
Heidelberg se pad in die toernooi het tot 'n einde gekom nadat hulle met 31 - 12 deur Safcol United uitgeskakel is.
Oor hul wedstryd teen Safcol sê Heidelberg se voorspelerafrigter, Fernell Pretorius: "Ek dink Safcol was op die dag die beter span en was klinies deur elke geleentheid af te rond.
"Dan dink ek ons spelers was bietjie moeg. Ons laaste vier wedstryde voor hierdie een was 'n tipe van uitklopwedstryd en ek dink dit het sy tol op die ouens begin eis.
"Ons is natuurlik teleurgesteld, want ons het nie ons doelwit bereik nie, maar deur die teleurstelling is ons tog dankbaar vir Goddelike krag aan die einde van 'n uiters suksesvolle seisoen."
'n Gefokusde Marcel Marais van Heidelberg opsoek na 'n spanmaat in hul wedstryd teen Safcol. Foto: Maurisha Poceiro Santos
Imran Wesso, ondervoorsitter van Groot-Brakrivier, sê hulle het geskiedenis gemaak toe hulle die Goue Beker huisves. "Dit is 'n groot eer vir die spelers, bestuur en ons gemeenskap. Ons is trots," sê hy.
Oor hul wedstryd teen Robertson sê Wesso dat hul "soldate" die wedstryd sterk begin het deur twee drieë binne die eerste 15 minute te druk. Brak het daarna ontspan en Robertson kon terugveg. Dit het tot 'n stresvolle wedstryd gelei wat in die laaste tien minute beslis sou word.
In die laaste vyf minute kon Brak egter vier drieë druk om die oorwinning te verseker.
"Ons voel great oor 'n amper perfekte wedstryd. Dit is net jammer dat ons twee punte gekort het om op ons tuisveld te speel. Nietemin bly ons trots op ons spelers en afrigters," sê Wesso.
Ter voorbereiding vir die naweek se wedstryd, het die spelers Maandagaand vir hersiening video's gekyk en Dinsdag-aand kon die spelers rus voor hulle Woensdag na KwaZulu-Natal vertrek het.
"Hierdie groep spelers benodig nie meer afrigting nie, net hul geestelike ingesteldheid moet reg wees en hul mentaliteit moet 'n trappie bo die van klubspelers wees, veral omdat die humiditeit in Durban 'n eerste ervaring vir baie sal wees. Dis nou net om met die hart en kop van elke speler te werk," sê Wesso.
Die ARC Goue Beker-toernooi sluit 32 van Suid-Afrika se voorste amateurrugbyklubs in wat in 'n uitklopformaat meeding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’