Video
GEORGE RUGBY NUUS EN VIDEO - "Dis lekker om weer by die huis te wees," sê Duhan van der Merwe (26), wat onlangs nog vir die Britse en Ierse Leeus teen die Springbokke uitgedraf het. Van der Merwe, wat oorspronklik van George kom, kuier op die oomblik by sy ouers, Alhan en Dulene van der Merwe en sy tweelingsussie, Simoné. Hy was laas in Januarie 2020 by die huis.
Hy sê hy verlang baie na sy familie, vriende en veral sy tweelingsussie, met wie hy 'n hegte band het. "Ek mis ook om lekker te braai en in die natuur te wees. Ek is lief vir visvang." Hy het ook 'n tydjie gemaak om saam met van sy ou matriekmaats te kuier. "Ons het bietjie tyd opgevang."
Duhan se pad met rugby
Hy het sy skoolloopbaan in 2013 aan Hoërskool Outeniqua voltooi en dit is hier waar sy rugbytalente gewys het. Rugby loop in die familie, sy ouer broer Armand, het al vir die Springbokke uitgedraf.
Tydens die afgelope toer van die Leeus het Duhan sy merk gemaak. In sy eerste wedstryd vir die Leeus in Suid-Afrika teen die Haaie was hy speler van die wedstryd en het hy drie keer agter die doellyn gaan kuier. Hy het nooit kon droom hoe sy rugbypad eendag sou loop nie.
Hy is in 2016 na die buiteland want hy wou uit sy gemaksone kom en homself toets.
Van der Merwe is glad nie spyt dat hy dit gedoen het nie en as hy weer die kans kry sal hy dit weer doen.
Duhan van der Merwe saam met sy ma, Dulene. Foto: Eugene Gunning
Natuurlik is daar aanpassings. In Edinburgh, Skotland is die winters lank en bitter koud. Sy meisie, Nika Badenhorst, is saam met hom daar en hulle gebruik die geleentheid om die wêreld te sien. "Dis my tyd om af te skakel van rugby."
Kyk 'n video hieronder:
Van der Merwe het dit geniet om teen die Springbokke te speel. Uiteraard is hy teleurgesteld dat sy span nie die reeks gewen het nie. "Ek dink ons moes die laaste toets gewen het."
Tydens die toetse teen die Springbokke het hy Afrikaans op die veld gehoor. "Hier en daar is woordjies gepraat."
Hy en die Springbokke sal dalk weer later vanjaar paaie kruis. Die Springbokke speel in November in Skotland teen Skotland. Hy hoop om weer die Skotse span te haal.
Hy weet nie presies wat die toekoms inhou nie. "My fokus is nou rugby, so kom ons kyk waarheen dit gaan."
Hy is bewus van die Afrikaanse-liedjie wat oor hom geskryf is en gesing word op die wysie van Flower of Scotland. Daarin word na hom as blom van Skotland verwys. "Dis nice dat mense uit hul pad gegaan het om so iets te maak."
Duhan van der Merwe met sy Britse en Ierse Leeus trui by sy ouers se huis in George. Foto: Eugene Gunning
Duhan van der Merwe bedank Georgiete vir hul ondersteuning in 'n kort nota.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'