GEORGE NUUS - Dit gaan baie goed met Bevin Fortuin, een van die bekendstes in SWD-rugbykringe en in George. Hy is sedert vroeg Maart die afrigter van die Northam Rhinos in Limpopo.
Die afgelope Sondag, 14 April, was hy langs die veld op Outeniquapark in George toe die SWD Arende en die Boland Kavaliers kragte gemeet het.
Fortuin is 'n voormalige Springbok en was ook onder meer kaptein en afrigter van die SWD Arende. Hy was tot onlangs afrigter van die Blanco-klub.
Fortuin het gehoor daar is 'n vakature by die Northam Rhinos en hy was suksesvol in sy aansoek.
By Sondag se geleentheid het talle mense hom voorgekeer vir 'n geselsie.
Na die wedstryd het hy aan George Herald gesê dis altyd aangenaam om by die huis te kom. Hy mis George waar al sy familie is.
Hy is nou al bietjie meer as 'n maand daar en volgens hom is dit baie aangename werksomstandighede. Hy het bygevoeg: "Mens mis mos maar altyd die huis. Maar werk is mos werk. Ek kan geensins kla nie."
Hy moet na sy loopbaan kyk. Hy het gesê hy sal nie altyd daar bly nie. "Ek sal maar sien wat die toekoms oplewer. Ek is vir 'n jaar daar gekontrakteer. Mens weet mos nooit waarheen dit sal gaan nie."
Fortuin het benadruk hy is glad nie spyt oor wat hy gedoen het nie. "Dis baie goeie ondervinding."
Die span het die naweek van 6 April hul eerste ligawedstryd gespeel en dit gewen. Die komende naweek speel die span in sy volgende ligawedstryd. "Dis 'n baie goeie kompetisie. Daar is baie borge aan boord. Ek vind nog my voete."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’