GEORGE NUUS - As jy teen die Britse en Ierse Leeus speel, "maak jou maar klaar vir 'n baie harde wedstryd". Dit is die boodskap van Bevin Fortuin, oud-Springbok en bekende inwoner van George.
Fortuin herstel op die oomblik van 'n heupoperasie en onder omstandighede gaan dit goed. Hy het met George Herald gesels oor rugbykoors wat met die Britte se besoek besig is om weer pos te vat.
Fortuin weet wat dit beteken om teen die Leeus te speel. In Junie 2009 het hy in Port Elizabeth teen die Britse en Ierse Leeus vir die destydse Southern Kings gespeel. Fortuin was aanvanklik op die bank, maar het later as senter speelkans gekry.
"Wat my altyd sal bybly is die atmosfeer in die week na die opbou van die wedstryd en die atmosfeer self tydens die wedstryd."
Dis een ding om teen Engeland of Ierland te speel. Dit is al klaar hard om teen hulle te speel, maar teen die Britse en Ierse Leeus is dit harder, vinniger en meer fisiek as 'n gewone toets. Daar moet onthou word dat van hulle spelers destyds, net soos nou, meegeding het om 'n plek in hul toetsspan. Volgens Fortuin was dit 'n massiewe eer om teen die Leeus te speel. Dit was een van die hardste wedstryde waarby hy al ooit betrokke was.
"Dit was hard. Regtig hard." Oor die kanse van die Springbokke teen die rooi truie het hy tydens Saterdagaand se eerste wedstryd van die toer teen die Leeus van Johannesburg gesê dit het gelyk of dit 'n goeie span is. Die voorspelers en agterspelers het goed saamgespeel. Hulle het ook 'n baie goeie afrigter en afrigtingspan.
"Natuurlik sal ek wil sien dat die Spring-bokke wen en ek glo dit sal gebeur. Ons sal net baie gou die intensiteit van die Wêreldbeker moet terugkry. Ek glo ons sal dit regkry."
Dis jammer dat toeskouers nie toegelaat word nie, maar hy berus by die regulasies wat in plek gestel is vir die Covid-19-pandemie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'