Gallery
GEORGE RUGBY NUUS - Barbarians van Mosselbaai het Saterdagmiddag vir 'n groot verrassing gesorg in die SWD Premierliga-rugbykompetisie toe hulle vir Progress op die Rosemoor-sportterrein met 19-17 geklop het.
Barbarians, wat die tweede posisie op die punteleer beklee met 63 punte, het met die oorwinning verseker dat hulle op Saterdag 18 Augustus op die D'Almeida-sportterrein in die uitspeelrondes speel.
Progress is na 15 wedstryde in die kompetisie steeds die voorloper op die punteleer met 63 punte en is ook verseker van 'n tuishalfeindstryd.
Die verdedigende kampioen, Progress, wat verlede Sondag ook op Oudtshoorn deur Bridgton met 39-32 geklop is, is dit die week terug na die tekenbord toe.
Progress, wie se pak voorspelers in die eerste helfte die oorhand gehad het, se groot probleem was dat hul nie kon afrond nie.
Barbarians het in die 27ste minuut van die wedstryd eerste bloed geruik toe hul opwindende binnesenter, Kevin Taute, oor is vir 'n drie.
In die 31ste minuut is die spoedvraat Justin Bhana (regtervleuel) oor vir sy span se tweede drie. Macdelin Saayman (losskakel) het die drie verdoel en die besoekers was met 12-0 voor.
Fizell Fredericks (linkervleuel) is in die 36ste minuut in die hoekie oor vir die tuisspan se eerste drie. Fredericks het verdoel en die besoekers was rustyd met 12-7 voor gewees.
Albei spanne se plaasvervangersbanke het in die tweede helfte 'n groot verskil gemaak. Veral Jose Cunha (stut) het 'n barshou vir Barbarians gespeel.
Wahlon Anthony (heelagter) is in die 58ste minuut oor vir die besoekers se derde drie na 'n slim skoppie deur Saayman. Macdelin het ook met die doelskop geslaag.
Vir die tuisspan het Cartlton-Dee Coeries (binnesenter) in die 64ste minuut en Fredericks sy tweede drie in die doodsnikke van die wedstryd gaan druk.
Vir die wenspan agter die skrum het Morné Buis (skrumskakel) uitsonderlike spel gelewer. Sy taktiese skoppies en goeie samespel met voor- en agterspelers het die tuisspan onder baie druk geplaas.
In die middelveld het Kervin Taute (binnesenter) in die aanval en verdediging uitgeblink. Taute is aangewys as Barbarians se speler van die wedstryd. Hul agterste driehoek, vleuels Justin Bhana, Curshwon Mono en Wahlon Anthony (heelagter) was altyd gevaarlik met die bal in die hand. Aden Jones (agtsteman) en Danny Amsterdam (flank) was hul ysters voorlangs.
Vir die tuisspan het Justin Levendal (slot), Hendrik Kriek (loskopstut), Coeries, Fredericks en Cameron Lentoor (heelagter) uitgeblink.
Evergreens skuif op na die vierde posisie op die punteleer met 49 punte na hul volpunte oorwinning van 27-24 oor Groot-Brakrivier op hul tuisveld.
Divandre Strydom (linkervleuel, 2), Gurshwin Muller (agtsteman) en Shaun Booysen (regtervleuel) het vir die wenspan gaan druk. C-Than Moos (losskakel) slaag met 'n doelskop en twee strafdoele. Henn-Lin Botha (losskakel) en Roshwen Abrahams (plaasvervanger) is vir die tuisspan oor vir drieë. Botha slaag ook met 'n doelskop en vier strafdoele.
Blanco het op sy tuisveld vir Silver Stars met 20-19 geklop. Dit was Blanco se tweede oorwinning die seisoen. Clint Damons (senter) is oor vir 'n drie vir Silver Stars. Henwico Stal (losskakel) slaag met 'n doelskop, drie strafdoele en Henrico Scott (plaasvervanger-losskakel) klits ook 'n strafdoel oor.
Bridgton het vier pragdrieë gedruk in hul naelbytsege van 26-25 oor Heidelberg op hul tuisveld. Blaine James (flank), Mondi Stofile (slot) Carlos Jansen (plaasvervanger) en Keanin Esau (heelagter) het vir die wenspan gaan druk. Esau slaag ook met drie doelskoppe.
Vir die tuisspan is Marquit September (binnesenter), Anrich Manho (buitesenter) en Jason Liebenberg (losskakel) oor vir drieë. Corbin Swartbooi (heelagter) klits twee doelskoppe en twee strafdoele oor.
Crusaders het vir Maori's op die Heidedal-sportterrein met 'n volpunte oorwinning van 30-20 getroef. Die wenspan wat in hul oorblywende wedstryde teen Groot-Brakrivier (tuis) en Blanco (weg) moet speel, is stewig in die derde posisie op die punteleer met 54 punte.
Curtley Scheepers, Declan Coetzee, Layle Delo, Dean Hopp en Elroy Havenga is oor vir drieë vir Crusaders. Henry Wolhuter slaag met 'n doelskop en 'n strafdoel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'