Gallery
GEORGE NUUS - Doemprofete wat die SWD Arende afgeskryf het, het Vrydagaand sleg op hul neus gekyk toe hulle die Grens-Bulldogs op Outeniquapark oortuigend met 41-20 geklop het.
Rustyd was die wenspan reeds met 28-6 voor.
Die Arende het alle afdelings van die spel oorheers en vyf drieë gedruk. Sewentien drieë in drie wedstryde toon watter avontuurlike benadering die Arende nou volg.
Vir die Oos-Kapenaars moes dit 'n bitter pil gewees het om te sluk nadat hulle SWD vanjaar reeds twee keer geklop het.
Rynard van As, hoofafrigter van die Arende, en sy bestuurspan verdien 'n pluimpie vir hul klinkende oorwinning oor die Bulldogs.
"Ek is ongelooflik trots op die ouens. Die harde werk wat ons die afgelope nege weke ingesit het, het vanaand vrugte afgewerp. Ons het baie gefokus op kondisionering, kragwerk en spanstruktuur en dit het ons weer op die wenpad geplaas.
"My span se ervare spelers, die oud-Bok Davon Raubenheimer (agtsteman), Martin du Toit (losskakel en kaptein), Johan Steyn (skrumskakel) en Janneman Stander (flank) se besluitneming was uit die boonste rakke en het baie druk op die teenstanders geplaas.
"Ons het nog te veel foute gemaak, daar is nog harde werk wat voorlê voor ons volgende wedstryd Saterdag teen die Griffons in Welkom. Die goeie nuus is dat ons beseringsvry deur die wedstryd kon gaan," het Van As na die wedstryd aan die George Herald gesê.
Die wenspan se flank, Janneman Stander, was ongetwyfeld die beste speler op die veld.
Stander, wat in die 12de en 35ste minuut van die eerste helfte twee pragdrieë gedruk het, het met sy kragspel en rotsvaste verdediging beïndruk en is as speler van die wedstryd aangewys.
Die talentvolle kantman, Freginald Africa, wat in die 17de minuut gaan druk het, het ook 'n barshou gespeel. Hy het talle omgekeerde besit bewerkstellig en het met sy vaart Grens ontsenu.
Marlou van Niekerk, plaasvervanger-senter van die Arende, rond af teen die Grens-Bulldogs.
Raubenheimer was 'n toring van krag in die lynstane. Die stutte, Luxolo Koza loskopstut) en Vukile Sofisa (vaskopstut), het albei goed gespeel in hul debuutwedstryd. In die vastelos het hul reusewerk verrig.
Die nuwe aanwins, die 23-jarige Tyler Fisher (buitesenter) wat vir die Pumas in
11 wedstryde uitgedraf het, het die toeskouers op hul voete gehad met sy vlymskerp breekslae en rotsvaste verdediging in die middelveld. Die sterk senter gaan definitief nog diep spore trap in Arende-rugby.
Die Arende se puntemasjien, Leighton Eksteen (heelagter), wat 21 punte aangeteken het met 'n drie, vyf doelskoppe en twee strafdoele, was hul groot planmaker agterlangs.
Puntemakers:
SWD Arende 41 (28): Drieë - Janneman Stander (flank, 2) Leighton Eksteen (heelagter), Freginald Africa (flank), Marlou van Niekerk (plaasvervanger-binnesenter). Eksteen slaag ook met 5 doelskoppe en 2 strafdoele.
ARTIKEL EN FOTO'S: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD SPORT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'