GEORGE NUUS - Die Covid-19-pandemie het 'n stokkie in die planne gesteek van Heinrich Muller, 'n aktiewe driekampatleet van George, om aan vanjaar se internasionale ysterman-kompetisie deel te neem.
Maar nou het hy met 'n blink plan vorendag gekom om wel die ysterman-kompetisie op eie bodem te voltooi én terselfdertyd geld vir die plaaslike ACVV in te samel.
Muller het die nypende nood van die ACVV se bejaardes en kleuters raakgesien en hom dit ten doel gestel om, ten spyte van die Covid-19-struikelblokke, 'n solo ysterman-wedloop op 14 November ten bate van die ACVV aan te pak.
Die ystermanwedloop bestaan uit drie bene: 3,8 km-swem in die George-dam gevolg deur 180 km-fietsry in die George-omgewing waarna 'n maraton van 42,2 km volg. Dié wedloop moet binne 17 ure voltooi word. Daar sal 'n waterpunt en verversings by die ACVV Byekorf-dienssentrum beskikbaar wees en inwoners word aangemoedig om Muller te ondersteun.
Covid-19 het die ACVV net so hard geslaan en hul beplande fondsinsamelingsprogram vir 2020 gekelder. Die ACVV is 'n nie-winsgewende welsynsorganisasie wat, onder andere, omsien na sub-ekonomiese bejaardes en kleuters. Met die grendeltyd wat oor maande gestrek het, het die ACVV finansieel 'n groot knou weg en kon hulle nie met hul opheffingswerk voortgaan nie.
Kleuterskole kon eers open en funksioneer vanaf 6 Julie en as gevolg van die groot werksverlies van ACVV-verbruikers het bedryfsinkomste tot 'n groot mate weggeval of is ingekort. Bejaardes was emosioneel en fisiek vasgevang in hul eie kamers en kon glad nie kontak met die buitewêreld maak nie. Kwesbare ouer persone leef voortdurend onder die vrees van die virus.
Die ACVV het 'n beroep op Georgiete en sakelui gedoen om 'n finansiële bydrae te maak om hierdie projekte laat te laat realiseer om kwesbare ouer persone en kinders in nood te help.
Donasies kan in die onderstaande ACVV-bankrekening inbetaal word of alternatiewelik kan 'n kontantbydrae by die ACVV Byekorf-dienssentrum in Victoriastraat 51 gemaak word.
Hul bankbesonderhede is as volg: ACVV George; ABSA Yorkstraat; rekeningnommer 0890140017; bankkode 632005 en gebruik YSTERMAN as verwysing,
Skenkers kan 'n artikel 18A-kwitansie vir belastingaftrekkingsdoeleindes aanvra deur 'n bewys van betaling na e-posadres byekort@acvv.org.za te stuur,
Vir meer inligting bel Liezel Muller by 044 874 5937/8 of 082 684 0889 en Christelle Botha by 044 873 3064 of 083 265 3038.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'