GEORGE ROLBALNUUS - Die 28 vrouespanne wat van oor 'n groot gebied aan vanjaar se vierde Terri-Anne Dames-driespelrolbaldag by die Outeniqua-rolbalklub deelgeneem het, het vir uitstekende spel en 'n kleurvolle gesig gesorg.
Die toernooi, wat deurgaans in 'n baie goeie, maar kompeterende gees gespeel is, is deur die Sedgefield-span met Ronnie Meiring, Ronel Eloff en Rose Potgieter gewen. Hulle was duidelik in ekstase toe hulle as die wenners aangedui is en was veral verras met die arms vol pryse wat hulle gewen het.
Die naaswenners was Mime Nortje, Susan Meyer en Elna le Roux met Elma Davis, Anri Fick en Gillian Young wat met die derde plek weggestap het. Die span van Phyllis Thompson, Joey Booysen en Annemarie Palmer het die vierde plek ingeneem.
Pryse vir die besgeklede spanne is ook uitgedeel en op hierdie gebied was die kompetisie ewe gedug met baie verbeeldingryke uitrustings.
Die toernooi, wat vanaf die eerste aanbieding vol bane getrek het, raak elke jaar gewilde met meer die waglys wat al langer word.
Die hoofborg en organiseerder van die toernooi, Terry Enslin, het tydens die prysuitdeling aangekondig dat al die deelnemende spanne reeds weer ingeskryf is om aanstaande jaar deel te neem, maar dat nog 14 addisionele ingesluit gaan word omdat die Outeniqua-rolbalklub se derde baan reeds in bedryf sal wees.
Hy het ook die verskeie borge bedank wat gesorg het dat dit die vrouetoernooi met die meeste prysgeld en pryse is.
Elkeen van die 28 spanne het pryse ontvang met 'n gelukstrekking wat ook verdere pryse opgelewer het.
Die kleurvolle deelnemers voor die aanvang van die toernooi afgeneem.
Die span van Sedgefield-rolbalklub wat met die louere weggestap het met die arms vol pryse en trofee wat deur die hooforganiseerder, Terry Enslin, oorandig is. Die spanlede is van links: Rose Potgieter, Ronel Eloff en Ronnie Meiring. Foto's: Jannie Meyer
Anri Fick, Elma Davis en Gillian Young (van links) wat die derde plek ingeneem het. Hulle was ook die naaswenners in die kompetisie vir die besgeklede span.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'