GEORGE NUUS - Supporters pronk heel boaan die punteleer wanneer hulle vanaand (Donderdag) poog om Ricoh in die Boardware Love 4 Vintage Somerliga by die Outeniqua-rolbalklub te klop.
Maar dit is nie 'n uitgemaakte saak dat die wenner die kampioenskap gaan buit nie.
Kort op hul hakke is spanne soos Vorster Motors, Mend a Bath, Bowling Stones en Hereford Groep George wat met puik vertonings genoeg punte kan bymekaarmaak om met die louere weg te stap.
Dit is die tweede agtereenvolgende keer dat Hereford Groep George en Bowling Stones mekaar gaan pak.
In die vorige ronde kon Bowling Stones net-net daarin slaag om Hereford Groep te klop en die punteverskil was so klein dat die twee spanne onderskeidelik in die 5de en 6de plek is.
In die vyfde ronde het Supporters vir Vorster Motors geklop terwyl Ricoh vir JDL Printing verslaan het.
Die punteverskil tussen Supporters en Vorster Motors was egter ook so klein dat beide bo aan die punteleer geklou het.
Die verwagting is dat vanaand se wedstryde puik rolbal gaan oplewer met elke span wat genadeloos gaan aanval. Sommige van die spanne is hoeka Dinsdagaand op die baan opgemerk waar hulle 'n ekstra oefensessie ingesit het voor die groot stryd.
Een van die nuweling-spanne wat baie goed vaar, Hereford Group George, se spanlede is van links Jannie van Vuuren, Niel Enslin, Jocelyn Enslin en Dirk Wessels. Foto's: Kobus van Wyk
Vanaand ontvang al die spanlede 'n gratis biefstuk om die reeks mee af te sluit.
Daar is gewoonlik 'n paar ekstra biefstukke teen R90 pp beskikbaar vir gaste om saam te kan smul.
Lewendige musiek sal 'n feestelike atmosfeer skep en alle belangstellendes is welkom om die aand gratis by te woon. Die klub berei ook, soos gewoonlik, ligte etes voor en 'n kontantkroeg is beskikbaar.
Die wedstryde begin om 18:00 by die Outeniqua Rolbalklub in Airwayweg, Heatherpark.
Uitslae
- Supporters 56;
- Ricoh 54;
- Vorster Motors 48;
- Mend a Bath 47;
- Bowling Stones 47;
- Hereford Group George 47;
- KTV 46;
- Halfway Toyota 46;
- Kommaweer Stoffeerders 45;
- JDL Printing 44;
- Disasters 44;
- Bruwer Reynolds Prokureurs 44;
- Just Property 42;
- 4 Musketeers 41;
- Blue Back Boogie 40;
- Jack's Paint & Hardware 38;
- MDL 38;
- Boardware 37;
- Miskruiers 36;
- Mac Dee Hops 36;
- Oddballs 35;
- Hot Stuff 34;
- Total Gas Sandkraal 32;
- Shell Kraaibosch 31;
- Angel's 31;
- Agterste Speen 28;
- Roux Prokureurs 27;
- Pik 'n Wyn 26.
Een van die hoofborge, Mustbuild Boardware, se span is van links Boet Gericke, Kobus Landman, Pottie van Aardt en Graeme Rob. Die verkeerde name het in die vorige uitgawe by die foto verskyn.
Wedstrydlys
Total Gas t Shell Kraaibosch; Miskruiers t Mac Dee Hops; Vorster Motors t Mend a Bath; Supporters t Ricoh; Bowling Stones t Hereford Group Geprge; Just Property t 4 Musketeers; Angels t Agterste Speen; Oddballs t Hot Stuff; Blue Back Boogie t Jack's Paint & Hardware; KTV t Halfway Toyota; Kommaweer Stoffeerders t JDL Printing; Disasters t Bruwer Reynolds Prokureurs; MDL t Boardware; Roux Prokureurs t Pik 'n Wyn.
ARTIKEL: JANNIE MEYER, GEORGE HERALD KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'