GEORGE ROLBALNUUS - In 'n hoogs kompeterende eindstryd het Supporters met die kampioenskapstitel in die Riaan de Wit Prokureurs en Relax Beds & Foam handelsliga vir besigheidspanne by die Outeniqua-rolbalklub weggestap.
Die wenspan het in die eindronde, soos in die vorige been, weer teen Outcasts, wat vanuit die staanspoor voorgeloop het, te staan gekom. Dit was vir beide hierdie spanne twee nagmerrie-wedstryde wat die beste uit die spelers gehaal het.
Outcasts moes uiteindelik met die derde plek tevrede wees.
Die ervare KTV kon met bietjie meer geluk ook met die titel gespog het. Hulle is as naaswenners gekroon na 'n goeie oorwinning oor Butz & Gutz en was uiteindelik net een ligapunt agter die wenners.
'n Feestelike atmosfeer het tydens die eindstryde geheers met elke tafel en stoel van die klub wat deur spelers en ondersteuners volgepak was. Die klub moes meer as 300 biefstukke voorberei om al die hongerpyne te stil.
Na die prysuitdeling het gewilde sangers Michael Lindt, Wim Erasmus en Herman Grobler, vir die sang en musiek gesorg en het die dansvoete aan die beweeg gehou.
Die volgende reeks begin in Augustus en daar is nog geleentheid vir hoofborge om na vore te kom. Die eerste klompie spanne het ook reeds weer vir die reeks ingeskryf.
Outcasts, wat van meet af voorgeloop het en in die eindstryd naelskraaps deur Supporters geklop is, het die derde plek ingeneem. Van links verskyn Bert Broberg, Johan Naude, JC Nortje en Johan Olivier.
Uitslae:
1 Supporters 69; 2 KTV 68; 3 Outcasts 63; 4 Accidental Bowlers 59; 5 Boardware 57; 6 3 Jacks & a Jill 56; 7 Coastal Armature Winders 54; 8 Finovo 54; 9 Ballbarians 53; 10 Butz & Gutz 52; 11 Kommaweer Stoffeerders 51; 12 Bowling Stones 50; 13 Ma se Ganse
50; 14 Ricoh 50; 15 4 Musketeers 49; 16 Relax Beds & Foam 49; 17 Biltong & Braai 49; 18 Mend a Bath 48; 19 Boksombende 48; 20 Hot Shots 47; 21 Bushwackers 46; 22 Unibuild Bowlers 44; 23 Die Electric Unit 44; 24 Divas 43; 25 Moore Stevens 43; 26 Bearing Warehouse 42; 27 Smitties No Plates 41; 28 York Auto 41; 29 Talisman 39; 30 Jack's Paint & Hardware 39; 31 Mac Dee Hops 39; 32 Redberry Farm 35; 33 Boshoff Visser 35; 34 SP Legal 25.
Span Kirsten & Tulleken Vervoer was die naaswenners wat die kampioenskapstitel met een punt isgeloop het. Die spanlede is van links Hannes Muller, Hein Koen Juandre Barnard (borg), Leon Langeveld, Brian Koen en Riaan de Wit (borg).
Outeniqua Rolbalklub se Protea-speler wat saam met die nasionale driespelspan die goeue medalje in die internasionale Atlantiese Kampioenskappe in Wallis gebuit het, is tydens die finale besigheidsliga-ronde by die klub terug verwelkom. Hier verskyn hy links by klubpresident Greg Young.
Supporters, die kampioenspan, verskyn hier saam met die medeborge van die toernooi, Riaan de Wit (links) en Juandré Barnard (regs). Die spanlede is van links: Johann Faber, Kobus Nel, Braam Immelman en Anthony Martin. Foto's: Jannie Meyer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'