GEORGE NUUS - Om te skolesport of nie. Dis die vuurwarm patat wat skole nou moet hanteer, terwyl daar gissinge is oor 'n derde vlaag van die Covid-19-pandemie.
Die afgelope tyd word skole toegelaat om sport vir leerlinge aan te bied, maar met streng Covid-19-protokolle. So byvoorbeeld word geen toeskouers toegelaat nie.
Dis 'n aangeleentheid wat nie net onderwysers en leerlinge aan die praat het nie, maar ook ouers. Kenners wys op die belangrike rol wat sport speel in die fisiese en sosiale ontwikkeling van 'n kind.
Terselfdertyd word daarop gewys dat lewens nie in gevaar gestel mag word deur 'n moontlike verspreiding van die virus nie. Uit gesprekke met plaaslike inwoners, is daar verskillende standpunte, maar almal is dit eens dat veiligheid eerste kom.
Eugene Gunning het met 'n paar mense gesels.
Die departement van basiese onderwys het gisteroggend, Woensdag, 19 Mei, aangekondig dat alle kontaksport onmiddellik gestaak word. Nie-kontakoefening kan voortgaan met die nodige Covid-19-protokolle.
Johannes Jumat, bekende prokureur en ouer van twee dogters op hoërskool: Dis 'n saak met twee kante. Ek verstaan skole se uitdagings en hul groot verantwoordelikheid om toe te sien dat die protokolle uitgevoer word. Aan die ander kant wil die gemeenskap sport hê. Mense is Covid-voos. Baie keer dink die ouers met hul hart en nie meer met hul verstand nie.Sportbyeenkomste kan super-verspreiders wees. Suiwer gegrond op ‘n gesondheids-veiligheidsoogpunt dink ek skolesport moet vir eers opsy geskuif word.
Piet Cloete, adjunkhoof sport van Hoërskool Outeniqua: Leerlinge het hard gewerk in die aftyd toe sport nie toegelaat is nie. Dit is 'n belangrike tyd vir byvoorbeeld gr. 12-leerlinge wat aan 'n sport soos rugby deelneem. Hulle sal graag wil hê dat die provinsiale rugbyunies en tersiêre instansies hulle raaksien om hulle daarheen te lok. Dit kan loopbaan-bepalend vir hulle wees. Daar moet egter gehoor gegee word aan die landswette en regulasies. Ons eerbiedig dit.
Marlene Quinot, 'n ouer van 'n tienerdogter: Skolesport moet plaasvind. Kinders bestee baie tyd met hul selfone en rekenaars. Met sport word kinders op 'n prettige manier gelok om tyd buite deur te bring. Met die nuwe onderrigmetodes bring leerlinge baie alleentyd deur. Hulle verleer sosiale vaardighede. Met sport kan dit weer opgeknap word. Om by ander buitemuurse aktiwiteite betrokke te raak word ouers geforseer om nog fondse te bestee. Dit terwyl hulle reeds onder finansiële druk is.
Tim Alicino, ‘n ouer met ‘n kind op laerskool en ‘n kind op hoërskool: Dis ‘n moeilike vraag. Daar moet in gedagte gehou word dat Covid-19 nog vir ‘n tyd met ons gaan wees. Daar moet ‘n balans wees om weer te begin met ‘n normale lewe en veilig te wees. Die vraag is hoe skole die nodige protokolle toepas. As dit gebeur moet hulle voortgaan met skolesport. As ouers druk uitoefen vir skolesport moet hulle bereid wees om hulp aan te bied om as protokolbeamptes vir sulke sportgeleenthede op te tree.
Zane Fouché, ‘n ouer wie se seun in die eerste rugbyspan van Hoërskool Outeniqua speel: Daar moet in gedagte gehou word dat leerlinge in 2020 nie aan mededingende sport kon deelneem nie. Sport is belangrik. Dit het vele fasette. Dit help byvoorbeeld met sosiale ontwikkeling. Ek is ten gunste daarvan dat dit sover moontlik moet aanhou. Op die oomblik word kinders en studente van geleenthede ontneem. Skolesport gaan nie net oor die kinders nie. Dis ook vir die ouers belangrik om hul kinders in aksie te sien. Dit is wel belangrik dat niemand se lewe in gevaar gestel mag word nie.
André du Preez, 'n sportadministrateur en onderwyser by Laerskool Outeniqua: Sport is belangrik vir kinders. Die landswette is bepalend. As regulasies verander om sport nie meer moontlik te maak nie sal daarby ingeval word. Ons besef (as dit nie meer mag plaasvind nie) dat dit ongerieflik is, maar Covid-19 is 'n realiteit. Lewens is belangriker as sport.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'