SPORTNUUS - Die Suid-Kaap Jagters-en Bewarings-vereniging (SJB) het op Saterdag 4 November hulle 32ste algemene jaarvergadering gehou.
Dit was 'n gesellige atmosfeer en die eerste keer wat dit by hulle eie klubhuis by die Wouter de Vos-skietbaan gehou is.
Beide die president, Louis Welman, en voorsitter, Wynand Fourie, is weer in hulle ampte herkies met Gerhard Swart wat as streekbestuurder van Oudtshoorn verkies is.
Verskeie toekennings is ook tydens die geleentheid oorhandig.
Die trofee vir die beste senior skut op skietdae is aan Niaan Fourie toegeken met Erik Zeelie die beste junior skut op skietdae. Daar is vanjaar vir die eerste keer twee baantrofeë oorhandig vir onderskeidelik die beste jaggeweer- en die beste .22 skut.
Sieg Minnie (jaggeweer) en Megan Terblanche (.22) se skietvernuf het hierdie jaar ander deelnemers oortref.
Carlo van Tonder van CapeNature was een van die gassprekers van die dag en het gepraat oor onwettige jagmetodes, en spesifiek die stel van strikke.
Sieg Minnie met sy trofee vir beste jaggeweerskut saam met voorsitter Wynand Fourie.
Tienie Hattingh van Wildman in George was die ander gasspreker en het gepraat oor die Vleis vir hoop-projek wat dit ten doel stel om wildsvleis aan behoeftige organisasies, veral ouetehuise te verskaf.
Daar word uitgesien na nog 'n hoogtepunt wanneer SJB se jaar sluit met die Wildman-ghonguitdaging wat op 18 November in De Rust sal plaasvind. Verskeie inskrywings is reeds ontvang.
Vir meer inligting oor hierdie skietdag asook ander aktiwiteite en kursusse skakel gerus die kantoor by 044 695 2319 of besoek die webtuiste.
Suid-Kaap jagters- en bewaringsvereniging se bestuur vir 2024.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’