Die Minister van Kultuursake en Sport, dr. Ivan Meyer, het in kort gesê dat dit sy en sy departement se prioriteit is om sport in die streek tot nuwe hoogtes te voer.
"Ek wil sommer dadelik die sportbeamptes bedank vir dit wat hulle met baie min fondse vermag het en die opofferings wat hulle saans en oor naweke maak om sport te dien. Hulle voertuie is hul kantore en hul motorhuise die sportstoorkamers", het hy gesê.
Dr. Ivan Meyer het voorts gesê dat dit 'n skande is dat die Nasionale Lotery met miljarde rande sit terwyl sportliggame nypende tekorte aan fondse ondervind.
Volgens hom het sy departement 99,93 persent van die toegekende begroting ge-spandeer wat ongehoort is.
"Maar ons is nog nie tevrede nie. Ons wil meer vir sportbevordering doen en veral baie meer aandag aan sport in die landelike gebiede gee. Die stedelike gebiede het uitstekende sportfasiliteite en ons moet hierdie wanbalans uitwis.
"Dit is ook een van die redes waarom ons die finansiële toekennings aan die begin van die boekjaar maak en nie aan die einde nie," het hy gesê.
Hy het dit duidelik gemaak dat as 'n Weskus-seun hy 'n sagte plekkie het vir die platteland en opdrag gegee het dat meer fondse na die plattelandse streke moet gaan. Hy het ook aangekondig dat R1 miljoen begroot is vir 'n sateliet Sportakademie wat op Oudtshoorn tot stand gebring gaan word.
Die huidige probleem is egter nog steeds die beskikbaarheid van fondse.
Volgens hom is die stad, Kaapstad se sportbegroting twee keer meer as die van die hele provinsie.
Wat sokker betref het hy gesê dat daar baie fondse en aandag aan sokker bestee is en dat Suid-Afrika tans met van die beste sokkerfasiliteite denkbaar spog.
"Ons wil niks van sokker wegneem nie, maar moet 'n balans vind en veral ook aandag gee aan die nypende behoeftes wat gestremde sportlui ondervind. Die Golden Games vir bejaardes moet ook verder uitgebou word," het hy gesê.
Wat die IRB-Sewestoernooi betref het hy gesê dat hy self ingeklim en alles moontlik gedoen het om die toernooi vir George te red.
"Nou wag daar 'n uitdaging op ons en die SWD en dit is om 'n soortgelyke toernooi op Outeniquapark te begin wat beter en groter is.
Diegene wat die toernooi na die Oos-Kaap verskuif het, moet terugkom en erken dat hulle 'n fout begaan het," het hy gesê.
Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat federasies hulle toekennings so vroeg ontvang.
Die voorsitter van die SWD-Sportraad, Goliath Munro, het die nuwe Hoofdirekteur van Sport, adv Lyndon Boauh, en sy span geluk gewens met die positiewe verandering wat 'n groot positiewe impak op sport in die streek sal hê.
Hy het ook sportliggame aangemoedig om die fondse goed te gebruik en gesê dat hulle na uitnemendheid moet strewe.
_jpg (Small).jpg)
ARTIKEL: JANNIE MEYER