SWEM NUUS - Minke Janse van Rensburg (18) is een van drie Suid-Afrikaanse finaliste vir die Afrika-Unie Sportraad se sportvrou van die jaar met 'n gestremdheid.
Dié nominasie volg nadat Minke in Maart vanjaar boonop as Suid-Afrika se gestremde sportvrou van die jaar aangewys is.
Die sportraad vlieg Minke en haar pa, Hennie Janse van Rensburg, na die geleentheid wat eerskomende Saterdag, 24 Junie, by die Esibayeni-oord in Matsapha, Swaziland, gehou word.
Hulle klim Vrydag (môre) op die vliegtuig.
Die nominasies vir die Afrika-Unie Sportraad se Regional Annual Sports Awards (Rasa) word deur die nasionale departement van sport, kuns en kultuur deurgegee.
As swemmer met down-sindroom maak Minke kort-kort opslae wanneer sy haar eie wêreldrekords verbeter, soos vroeër vanjaar by die SA nasionale langbadkampioenskap in Gqeberha.Wes-Kaapse span vir swemmers met gestremdhede by die SA skole swemkampioenskappe.
Janse van Rensburg het by navraag gesê dat hy baie opgewonde is oor die erkenning wat Minke by wyse van die nominasie kry.
"Sascoc het kennis geneem van haar prestasies en dit baan die weg vir down-sindroom sportlui om dalk binnekort weer internasionaal te kan deelneem."
Op 'n vraag oor hoe sy voel oor hierdie pluimpie in haar hoed, het Minke die volgende gesê: "Ek dink dit gaan 'n lekker party wees. Ek gaan eendag 'n swem coach word."
Minke gee 'n handtekening vir bewonderaars nadat sy twee van haar wêreldrekords verbeter het tydens die SA langbadkampioenskappe in Gqeberha.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’