GEORGE SPORTNUUS - Een van George se toplangasems, Elroy Gelant, het weereens Suid-Afrika en sy tuisdorp, George, trots gemaak met 'n welverdiende tweede plek by dié jaar se Twee Oseane-halfmarathon wat op Sondag 17 April in Kaapstad plaasgevind het.
Gelant, die 2019-verdedigende kampioen nadat die 2020- en 2021-weergawes van dié wedren geskrap is as gevolg van Covid-19, het tweede geëindig ná die wenner, Moses Tarakinyu van Zimbabwe, die wenstreep na 21,1 km met 'n tyd van 1:03:31, slegs 1,55 sekondes voor Gelant, oorgesteek het.
Nog 'n Suid-Afrikaner, Desmond Mokgobu, het derde geëindig.
Gelant is oorspronklik van Pacaltsdorp en het skoolgegaan by Pacaltsdorp Primêr en later Hoërskool Outeniqua. Sy ouers, Steven en Yvonne Gelant, woon steeds in Pacaltsdorp, maar hy woon en werk deesdae in Potchefstroom.
Gelant, wat vir vyf maande moes herstel van 'n dyspierbesering ná sy deelname aan die 2021 Olimpiese Spele in Japan, noem dat hy baie dankbaar is vir die posisie wat hy behaal het.
"Om onder die topdrie te eindig is reeds 'n groot prestasie. Ek was vir vyf maande, van Augustus 2021 tot Januarie, uit weens my besering en het slegs 13 weke gehad om vir die Twee Oseane voor te berei. Tydens die herstelperiode moes ek my gewig monitor en my fiksheidsvlakke verbeter voor die ernstige voorbereiding kon begin," sê Gelant.
Ná die Twee Oseane het Gelant 'n paar dae die week in George by sy familie deurgebring, voor hy die naweek aan die SA senior atletiekkampioenskappe (ASA Senior T&F National Championships) in Groenpunt deelneem.
Gelant pak vandag, Donderdag 21 April, die 5 000 m aan en môre neem hy deel aan die 10 000 m wedloop.
"Hier neem ons deel teen die bestes van die bestes met atlete soos Wayde van Niekerk en Caster Semenya wat ook daar gaan wees," sê Gelant.
Gelant (voor) het tweede plek behaal met 'n tyd van 01:03:33. Foto: Stephen Granger
Elroy Gelant was tevrede met sy tweede plek by dié jaar se Twee Oseane-halfmarathon. Foto: Stephen Granger
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'