GEORGE ROLBALNUUS - Boksombende klou steeds verbete aan die voorsprong in die Ricoh en Outeniqua Plumbers Handelsliga van die Outeniqua-rolbalklub en kom nou aanstaande Donderdagaand teen 'n opponent te staan wat nog geloot moet word na die kansellasie van die vyfde ronde.
Die ewe vasberade Bowling Stones, wat in die tweede plek is, is ook nog in 'n baie gunstige posisie.
Net twee ligapunte staan tussen die twee spanne en die een wat wen kan met die kampioenskap wegstap.
Maar daar is nog 'n paar groot honde wat ook die been in die oog het. KTV is in die derde plek en word deur Mc Dee Hops uitgedaag terwyl Butz & Guts ook in 'n gunstige posisie is om hulself te laat geld.
Dit sal egter 'n uitsonderlike poging van enige span, behalwe die twee voorlopers, verg om die agterstand in ligapunte in twee rondes uit te wis. Die blok raak nou benoud en die verwagting is dat puik rolbal opgedis gaan word.
Met die vyfde been wat nou gekanselleer is as gevolg van 'n nasionale toernooi op die rolbalbane en nog net die finaal wat wag, kan dinge baie verander. Daar gaan weer geloot word voor die eindronde wat beteken dat baie spanne mekaar weer, vir die tweede keer in die reeks, op die baan gaan ontmoet.
Belangstellendes is welkom om die wedstryde gratis by te woon en na die sang van die gewilde CD-kunstenaar, Cordelia, te luister.
Ligte etes en 'n kontantkroeg is ook beskikbaar.
Cordelia gaan die spelers en gaste met haar sang vergas terwyl daar aan biefstuk gesmul word. Spelers ontvang 'n gratis ete terwyl gades en ander belangstellendes ook vooraf teen R100 kan bestel.
Uitslae:
1 Boksombende 48; 2 Bowling Stones 46; 3 KTV 40; 4 Mac Dee Hops 38; 5 Butz & Gutz 38; 6 Incredibowls 38; 7 Moore Stevens 38;
8 Finovo 37; 9 Talisman 37; 10 Garden Route 35; 11 Meyerkon 35; 12 Chanel Doggy Parlour 34; 13 Outeniqua Woods 33; 14 Ricoh 32; 15 King Earls 32; 16 Ricoh Sales 32; 17 Kommaweer Stoffeerders 29; 18 Coastal Relax 29; 19 4 Musketeers 28; 20 Spares Squad 27; 21 Bril-jant 27; 22 Bowlistics 26; 23 Carpet King 25; 24 Just Property 25; 25 Tyres & Treads 25; 26 Biopolar Plumbing 22; 27 Golden Girls 22; 28 Bearing Warehouse 18.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'