Video
GEORGE SPORTNUUS & VIDEO - Die tuin- en huiseskapades van plaaslike atlete om die impak van algehele inperking te versag en boonop fiks te bly, het sosiale media die afgelope week of twee aan die gons gehad.
Die talle Facebook-plasings, video's en foto's wat die ronde doen, getuig van buitengewone kreatiwiteit, vaardigheid, stamina, konsentrasie en, in sommige gevalle, senuwees van staal.
Die moedswilliges onder ons sal onderlangs saggies vra of dié klomp energievrate dan effe "betjoiings" is.
Beslis nie.
Daar is heelwat voorbeelde wat die teendeel bewys, maar drie ekskursies op tuisbodem het die tonge laat klap.
Eers het André Oosthuizen, sover ons kon vasstel, die eerste maraton in die Suid-Kaap op sy erf aangepak.
Hy het dié 42 km-roete in sy tuin in net 'n raps oor die ses uur voltooi.
André Oosthuizen het tydens die inperking die eerste maraton (42 km) in die Suid-Kaap op sy erf aangepak.
Toe het die alombekende en beminde Eddie Mouton van die Nedbank-atletiekklub 'n Washie 100 myl (161 km) in sy huis aangedurf.
So draf-draf het hy sommer 'n Twee Oseane-maraton en die Comrades in sy huisroete van 161 km voltooi. Die draffie het 'n allemintige 24 uur, 37 minute en 7 sekondes in beslag geneem.
"Ek gaan nou 'n paar dae rus," het Eddie aan George Herald gesê.
(Ons publiseer aanstaande week 'n vollediger artikel met foto's oor die twee atlete se "groot vasbyt.")
Eddie Mouton van die Nedbank-atletiekklub het 'n Washie 100 myl (161 km) in sy huis aangedurf en ná 24 uur, 37 minute en 7 sekondes voltooi.
Die derde geval behels 'n man en sy fiets, wat 'n moordende bergfietsuitdaagrit van 24 uur op sy erf aangepak het. Matthys Beukes, een van Suid-Afrika se allerbeste bergfietsryers, het dié uitdagende tog om sy huis aangepak sonder om 'n voet buite sy erf te sit.
Beukes, 'n driemalige wenner van die Attakwas Extreme, wat allerweë as die Comrades van bergfietswedrenne in Suid-Afrika beskou word, het in die 24 uur 255 kilometers afgelê.
As mens in ag neem dat die Attakwas oor 121 km strek, plaas dit sy eenmanrit om sy huis in groter perspektief.
Beukes het in 'n telefoniese onderhoud gesê twee goed het hom gemotiveer om dié taai uitdaging aan te pak. Eerstens, die nuus dat vanjaar se Cape Epic gekanselleer is. "Dit het al die jaers hard getref, want maande se voorbereiding was skielik als verniet. Ek sal ruiterlik erken dat die nuus my platgeslaan het.
"Maar dis die manier waarop jy sulke terugslae hanteer wat jou 'n beter - en sterker - mens maak. Met die koronavirus-pandemie wat almal nou ten nouste raak, het ek gedink dis juis nou die tyd om iets aan te pak om aan mense te wys dat jy tot enigiets in staat is solank as wat jou ingesteldheid reg is."
"Die Epic-terugslag het my depressief gehad, maar ek het ná 'n ruk besef om negatief te bly gaan my in 'n donker gat laat beland. Dis menslik en dis okay, maar juis in sulke tye moet mens jouself kan optrek. Ons het nog steeds baie om voor dankbaar te wees."
"Tweedens wou ek myself uitdaag om vir 'n slag iets aan te pak wat buite my gemaksone was. Hierdie 24-rit was die perfekte geleentheid om dit te doen."
Kyk 'n video hieronder:
Beukes sê hy was aanvanklik geïntimideer deur dié idee, maar dat dit hom geestelik baie sterker gemaak het.
Sy uithourit het verlede Saterdag om 12:00 begin en op Sondag om 12:00 ten einde geloop. Die roete om sy huis, wat hy as tegnies baie uitdagend beskryf, was 400 m lank.
Matthys Beukes klim trappe.
"Die eerste 20 minute was die moeilikste. Maar my kop was reg en ek het dié tog aangepak soos wat mens 'n olifant sal eet: stukkie vir stukkie. Ek het net daarop gefokus om net deur elke uur te kom."
Beukes sê die fisieke en geestelike eise was nie naastenby so erg as wat hy verwag het nie. "Danksy die regte ingesteldheid en klein doelwitte wat ek vir myself gestel het, kon ek die uithourit voltooi."
Aan tou opgooi, nee, daaraan het hy nooit gedink nie, het Beukes aan George Herald gesê. "Die ergste was my hande wat erg opgeswel het, maar ek het dit aanvaar as deel van die uitdaging en vasgebyt."
Die drie trappe wat hy 600 keer moes bemeester, was ook 'n "monster" wat hy uit sy gedagtes moes trap. "Teen halfses Saterdagmiddag was ek gedreineer van al die konsentreer en het ek besluit om 'n halfuur te gaan rus sodat ek die oorblywende ses uur met hernude ywer kon aanpak.
"Dit was ook my eerste keer wat ek in die aand moes trap - nogal 'n uitdaging sonder die regte beligting. Ek kon kwalik 'n moeiliker roete vir myself uitgelê het."
By sy lang lys bergfietsoorwinnings pryk daar nog 'n titel: dié epiese 24-uur huisrit, maar sonder die geel trui.
Om en om op die vasgestelde roete van 400 m om sy huis.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'