Met die kwik op 'n skamele 12°C het spelers onder sambrele skuiling gesoek teen reën wat wedstryde tot ses koppe elk beperk het.
Die Butcher Boys het hul onoorwonne status behou toe hulle Nel's Meubels, wat tydens die toernooi deurlopend beïndruk het, in 'n taai eindstryd met 6-2 geklop het. Inaggenome die uitdagende speeltoestande, kan Nel's Meubels tevrede voel met hul verto-ning wat aan hulle die tweede algehele posisie besorg het.
'n Begeesterde span van Kommaweer Stoffeerders het Mend a Bath se drome finaal verpletter deur hulle met 15-2 in die finale rondte te klop. Hierdie oorwinning het aan Kommaweer 'n welverdiende derde posisie besorg, slegs een punt bo Watson's Meat, in die vierde plek.
Die Kwaggas en Burger en Genote het ook tydens die finale rondte indruk gemaak. Eersgenoemde het met 10-4 met Eden Wealth afgereken terwyl Burger en Genote met 10-0 aan die wenkant was teen Werner Fourie Oogkundiges.
Die borgspan van Brandhouse het hul ietwat teleurstellende toernooi op 'n hoë noot afgesluit toe hulle met 10-1 aan die wenkant teen die Bellas was.
Spelers en beamptes was na afloop van spel dit eens dat hierdie toernooi nie net vir die groot aantal jongmense wat deelgeneem het onthou sal word nie, maar ook vir die koudste en natste toestande waarin nog oor 'n ses weke periode meegeding is.
Maar selfs hierdie omstandighede kon nie die vuurwarm Brandhouse-gees blus nie.
Spelers het na afloop van spel die vure aangesteek en daar is tot laatnag saam gekuier.

Nel’s Meubels, wat tweede geeïndig het, saam met Brandhouse se Natasha wat die pryse oorhandig het en Nel’s se eienaar, Attie Botha (tweede van regs), wat breed glimlag.

Die Butcher Boys, 2012 Winterkampioene, saam met Natasha (middel) van Brandhouse.