GEORGE NUUS- Om sy dankbaarheid te wys vir 'n kans op 'n nuwe lewe het Dean Arnolds (25) en 'n groep fietsryers die lang pad van George na Gqeberha aangedurf.
Arnolds het agt jaar gelede 'n nieroorplanting gehad en verlede Woensdag, 5 Oktober, het hy en ander fietsryers uit George vertrek. Hulle is vergesel van 'n ondersteuningspan.
Hulle het geld ingesamel vir 'n terapeutiese speelarea (therapeutic play area -TPA) by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad. Dit is krities belangrik vir kinders tydens die voor- en na-fase van operasies.
Arnolds was in die verlede self 'n pasiënt by die hospitaal. Hulle was aanvanklik 'n groep van vyf fietsryers en hy het dele van die pad gery. By tye is hy 'n ruskans gegee.
Later het nog fietsryers op die roete aangesluit. Van Schoenmakerskop naby Gqeberha is hulle begelei deur lede van die CMA (Christian Motorcyclists Association) tot by Something Good in Summerstrand.
Die totale afstand van die roete het sowat 315 km beloop. Op die eerste dag het hulle van George tot in Plettenbergbaai gery. Die volgende dag, die Donderdag, het hulle tot by Stormsrivier gery. Die Vrydag het hulle die pad tot in Jeffreysbaai aangedurf en die Saterdag, die laaste skof tot in Gqeberha.
Die presiese bedrag wat hulle ingesamel het sal later bekendgemaak word.
Arnolds het Maandag gesê dit was 'n baie goeie ondervinding. Dit was nie vir hom hard en moeilik nie. "Dit was my hartsbegeerte om dit vir die Rooikruis-kinderhospitaal te doen en die kinders te sien glimlag."
Sebastian Arnolds, sy broer en voorsitter van sy stigting wat deel was van die poging, het sy dank aan die Here, die hele span wat betrokke was en al die borge uitgespreek. Sonder hulle sou dit nie moontlik gewees het nie.
Mense wat belangstel om meer inligting te bekom, kan 'n e-pos stuur aan info@deanmalcolmarnolds.com.
Dean neem deel aan sport en sal Suid-Afrika verteenwoordig tydens die 2023 Transplant Games in Australië. Hy is ook besig om 'n outobiografie te skryf.
'n Paar lede van die groep op Jeffreysbaai.
Lede van die CMA (Christiaan Motorbike Association) wat die groep tot by Something Good in Summerstrand begelei het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'