GEORGE NUUS - Van gholfstokke swaai om wenhoue te speel, kan jy Ivan Williams van Blanco niks vertel nie. Williams (48) het Saterdag 11 Desember sy 48ste toernooi gewen toe hy eerste geëindig het in die Knysna-gholfklub se ope toernooi.
Hy het die titel gewen met 'n uitstekende agt onder die baansyfer. Dit is oor twee rondes beslis (36 gate) en hy het tellings van 67 en 69 behaal.
Sy naaste teenstander was Jason Tarbotton met tellings van 71 en 68 wat vyf houe onder baansyfer was. Dit was die tweede keer dat Williams die titel verower het.
Williams se stap op die gholfbane kom 'n lang pad. Hy het al van kleinsaf begin gholf speel en die gogga het hom later behoorlik gebyt. Die laaste sowat 20 jaar het hy dit ernstig begin opneem en hy spog nou met 'n plus drie voorgee.
Hy ruim elke week tyd in vir die spel waarvan hy so baie hou. "Ek geniet gholf. Dit is wat my aan die gang hou. Gholf is vir my 'n stokperdjie," het hy Maandag vertel.
Hy speel oral op verskeie bane in die Suid-Kaap. Op die oomblik is hy lid van die George-gholfklub en ook die nommereenspeler van die Suid-Kaapse gholfunie.
Volgens hom is gholf 'n moeilike, tegniese en duur spel. Williams glo die eienskappe waaroor 'n suksesvolle gholfspeler moet beskik is talent en geduld.
Hy werk in die konstruksiebedryf en het nog nooit oorweeg om voltyds sy daaglikse brood met die spel te verdien nie. Hy het bygevoeg: "Ek speel vir sosiale redes en vir die kompetisie en ek wil speel tot ek nie meer 'n gholfstok kan swaai nie."
Hy sal ook graag minstens 50 toernooie wil wen en nog 'n fortuinhou (hole in one) wil behaal. Hy het reeds een op sy kerfstok wat hy 'n hele paar jaar gelede by Oubaai behaal het.
Ivan Williams met die trofee wat hy die afgelope naweek gewen het. Foto: Knysna Golf Club Facebook-blad
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'