Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Die bal is aan die rol om 'n nuwe jeug sokkertoernooi in Julie aan te bied. Dit staan bekend as die 6ASIDE FOOTY CHALLENGE en daar word gehoop dat dit sal onder meer help om nuwe sokker talent te identifiseer.
Brandon Adams, 'n burgmeesterskomitelid van die George-stadsraad en Benmèr Madumane, 'n gemeenskapsleie, is daarby betrokke en dit sal plaasvind van 2 tot 25 Julie.
Madumane is die voorsitter van die Precision Sport Academy. Adams borg die pryse vir die toernooi.
Madumane het by navraag gesê spanne van regoor George sal deelneem. Dit sal gespeel word op die velde van Conville Primêr, en die sportvelde van Rosemoor, Pacaltsdorp en Rooirivierrif. Spanne in die ouderdomsgroepe van O/10, O/13 en O/15 sal deelneem.
Dit is byna net soos gewone sokker, maar spanne sal net uit ses lede elk bestaan. Spanne in die O/10 afdeling sal 20 minute speel en in die O/13 en O/15 groepe 30 minute. Dit is amper soos die beginsel van 7's rugby teenoor die 15 man kode.
FOTOGALERY: Precision Sport Academy oefen vir sokkertoernooi
Madumane se betrokkenheid by sokker ontwikkeling onder die jeug kom 'n lang pad. Hy het tydens die covid-19 tyd betrokkke geraak om kos aan die jeug te gee. In daardie stadium was daar reeds 'n informele sokkergroep in Proteapark. Hy is genader om daarby betrokke te raak.
VIDEO: Nuwe jeug sokkertoernooi vir George beplan
VIDEO: Kyk hoe oefen ons
Sowat 'n jaar gelede het hy formeel betrokke geraak. Later het hy vir Adams genader en die het ingestem om ook te help.
Op die oomblik is daar sowat 300 tot 350 kinders van Rosemore, Conville, Parkdene, Borcherds, Pacaltsdorp, George-suid en Blanco betrokke. Die kinders se ouderdomme wissel tussen 8 en 15 jaar.
Daar is al informele toernooie gehou en die nuwe toernooi sal die eerste formele toernooi wees.
Dit sal begin met 'n reeks groepwedstryde in elke ouderdomsgroep. Die top vier spanne in elke afdeling gaan deur na die semi-finale en die top twee spanne sal in die finaal speel. Vir die wenspan in die O/10 groep is die prysgeld R1000 en in die O/13 en O/15 spanne R2000 elk. Elke wenspan sal ook 'n beker en medaljes ontvang.
Brandon Adams
Tydens die geleentheid sal daar ook pryse vir byvoorbeeeld die beste verdediger en doelskieter wees.
Verlede week het vier spelers van die Precision Sport Academy aan die O/17 proewe vir Super Sport United deelgneem. Die span speel in die eerste divisie van Suid-Afrikaanse sokker. Van die talentsoekers van die span sal sommige dae van die toernooi bywoon.
Volgens Madumane geniet die kinders dit baie. Daar is duidelik kinders met sokkertalent, maar daar is nie 'n platforum waar hulle talente bekend gestel kan word nie. Met die toernooi sal die talent te sien wees en wie weet dalk is die begin van groot dinge vir van die kinders.
Adams het by navraag bevestig dat hy betrokke is. Hy doen dit in sy persoonlike hoedanigheid. Benewens om sokker talent te identifiseer, sal dit ook help om jongmense van die verkeerde dinge weg te hou.
Volgens Adams gaan gepoog word om dit op dieselfde vlak as Vlakkie krieket te kry. "Sokker is 'n goeie voertuig vir jeug ontwikkeling."
Brandon Adams by die Black Cats sokkerspan van Thembalethu. Hy borg die span se t-hemde. Dit is senior spelers en hulle sal nie aan die toernooi deelneem nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'