GEORGE NUUS - Danksy 'n nuwe inisiatief van 'n sakeman Jonathan Hills, kry die ontwikkeling van sport in die plaaslike gemeenskappe 'n groot hupstoot.
Hills is betrokke by die Telesto Ramblers-krieketklub. Dit is 'n niewinsgewende organisasie wat hom toespits op die ontwikkeling van sport in die plaaslike gemeenskappe soos Rosemoor, Le Vallia, Proteapark, Blanco, Conville, Pacaltsdorp en Thembalethu.
Die klub se tuisveld is die Rosemoor-sportterrein. Die klub is oorspronklik in 1945 deur wyle George Koert gestig.
Op die oomblik het die klub 54 geregistreerde spelende lede. Die jongste speler is Reagan Februarie (12) 'n leerling van Hibernia Primêr. Hy is al reeds gekies vir proewe by die SWD o.13.
Hills se betrokkenheid kom 'n lang pad. Een van die belowende jong spelers Davino Koert, het sy been in 'n ongeluk gebreek en was opgeneem as speler vir SWD o.19. Hills is om hulp genader. Nadat hy een van die klub se oefensessies bygewoon het, het hy sonder huiwering besluit om die klub te borg.
Telesto Ramblers het die naweek van 8 Oktober vir die eerste keer in hul nuwe T20-hempies gespeel. Komende naweek, 22 en 23 Oktober, neem hulle deel aan die Six Gun Grill SWD se 50 en 40 boulbeurt kompetisie. Die Promosie ligaspan speel in Heidelberg en die Reserwe ligaspan Saterdag en Sondag tuis.
Volgens Noel Koert is die Telesto Ramblers bestuur en spelers Hills ewig dankbaar vir die hulp wat hy die klub bied. Die bestuur bestaan uit Byron Botha, Otniel le Roux, Willy Bezuidenhout, Fabian Meyer, Denver Povey, Duan Joseph en Cedric May. Die hoofafrigter is Heathwin Jacobs.
"Ons nooi graag meer jongelinge om deel te kom wees van hierdie fantastiese sport, want sy fokus is spesifiek die jeug," het Koert gesê.
Hills het gesê hy het nog sy hele lewe aan sport gewei. Met die jongste inisiatief ploeg hy graag terug in die gemeenskap en die doel is om kinders blootstelling te gee. Jeugontwikking in sport is belangrik.
Hy praat uit eie ondervinding. Hy het by tennis betrokke en dit het vir hom deure oopgemaak. Met die nuwe inisiatief is sy doel om die gemeenskap te betrek. Op die oomblik is daar geen platform om te verseker dat alle kinders geleenthede kry nie.
Volgens hom gee sport 'n doel vir kinders. Dit het ook ander voordele soos byvoorbeeld dit dien as 'n wegspringplek. Dit is alles deel van 'n groter prentjie.
Lede van die Telesto Ramblers Krieket klub. Agter met die swart hemp is Jonathan Hills. Foto: Lenwill Smart.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'