GEORGE KRIEKETNUUS - Danksy die inisiatief van Sammy Vorster, 'n wykskomiteelid van Parkdene, gaan kinders van dié woonbuurt binnekort 'n krieketblad hê waar hulle hulleself kan besig hou.
Die blad word tans voorberei op 'n groot oop stuk grond - 'n gewilde speelplek vir kinders wat in die omgewing van Circular-rylaan woon.
"Die kinders hier het nie enige vermaak nie en dis een manier om hulle konstruktief besig te hou," sê Vorster.
Sy seun, Silvino, 'n kranige krieketspeler van Van Kervel Skool, wat al SWD-kleure ontvang het, en 'n paar van sy vriende is nadergetrek om die uitgrawings vir die blad te doen.
"Silvino het toerusting waarmee die kinders kan speel, maar ons soek nou net 'n bietjie sement om die blad te kan gooi," sê Vorster.
Sabina Laws, nog 'n inwoner en ook lid van die wykskomitee, is saam met Vorster besig om nog gemeenskapsprojekte in hul buurt aan te pak.
Belangstellendes wat 'n liefde vir krieket onder die jeug wil help aanwakker of ander buitelugaktiwiteite vir kinders kan bied, is welkom om betrokke te raak en kan vir Sammy Vorster by 078 703 1020 bel.
Belangstellendes wat 'n liefde vir krieket onder die jeug wil help aanwakker of ander buitelugaktiwiteite vir kinders kan bied, is welkom om betrokke te raak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'