Video
GEORGE KRIEKET NUUS EN VIDEO - As die Protea-krieketspan ooit soek na nog 'n speler om hul boulaanval te versterk, sal Daniel du Plessis (13) van George kan help.
Die gr. 8-leerling van Hoërskool Outeniqua het onlangs die koppe laat draai toe hy in 'n T20-wedstryd vyf paaltjies geneem het met net vyf balle.
In krieketterme word dit 'n driedubbele driekuns genoem.
Hy het die unieke prestasie behaal tydens 'n wedstryd op 17 Februarie tussen die o.15-spanne van Hoërskool Outeniqua en Bridgeton HUB van Oudtshoorn. Outeniqua het die wedstryd gewen.
Maandag, tussendeur al die skoolwerk en krieketoefening, vertel hy van die besondere dag in sy jong krieketloopbaan.
"Ek speel omtrent my hele lewe lank krieket." Hy en sy jonger boetie, Jac, speel ten minste drie keer in 'n week krieket by die huis. Soms staan hul pa, Jacques ook nader. Dis benewens die krieketoefening by die skool.
Dit was nog altyd sy droom om eendag vir die Proteas te speel en as dinge uitwerk sal hy graag eendag 'n beroepspeler wil word.
Sy driedubbele driekuns het hom self verbaas. "Boulwerk is nie my sterkpunt nie. Ek is eintlik net daar as hulle my nodig sou kry vir verandering in boulaanval, want ek is 'n wegdraaibouler."
Kolfwerk is sy sterkpunt en hy fokus redelik baie daarop.
Die betrokke dag was die blad baie droog en dit het ook baie krake in gehad. Daar is gedink dat draaiballe baie maklik op die blad sal wees. 'n Draaibalbouler gee 'n ekstra opsie vir 'n span. In die 16de boulbeurt is Daniel nader geroep. Hy het die vyf paaltjies na mekaar in vyf aflewerings geneem. Hy het dit behaal in die 5de en 6de aflewering van die 16de boulbeurt en in die 1ste, 2de en 3de aflewerings van sy volgende boulbeurt (18de).
Met die eerste bal is die kolwer gestonk. Die tweede was 'n been voor paaltjie, die derde 'n vangskoot, die vierde het hy die kolwer skoon geboul en die vyfde was weer 'n vangskoot.
Volgens hom moet 'n krieketspeler goeie ball sense hê. Hy/sy moet ook vir lank kan konsentreer, wat veral belangrik is as dit warm is.
Hy glo aan sy pa, Jacques, se lewens-benadering. "My pa sê altyd 30% is talent en die ander 70% is harde werk." Sy ouers is baie trots op hom.
VIDEO - Krieketspeler se goeie boulwerk:
Jacques het vertel sover sy kennis strek is dit nie algemeen nie. "Dit was 'n volmaakte gelukskoot. Dit is soos om twee kolhoue in gholf direk na mekaar te behaal." Hy glo Daniel kan dit ver bring as hy baie hard werk.
Albertus Kennedy, uitvoerende hoof van SWD-krieket, het gesê dis 'n uitsonderlike prestasie. Dit gebeur nie baie nie.
Daniel du Plessis.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'