GEORGE NUUS - Atlete wat op Vrydag 26 Januarie aan Rainbow-atletiekklub en Top Gear Sport se gewilde nagwedloop deelneem, kan nou letterlik hul ou skoene agterna in 'n boks gooi.
Dis die versugting van Ters Giliomee, eienaar van Top Gear Sport, wat al jare lank die gewilde nagwedloop borg.
Hy sê hy is doodseker daar moet tientalle hardloopskoene by atlete in kaste lê en stofopgaar.
"Ek wil die atlete smeek om hardlooptekkies en -skoene wat in onbruik geraak het na die nagwedloop saam te bring en in die kartonboks te plaas wat ons by die begin- en eindpunt gaan neersit. Ons wil die skoene uitdeel aan minderbevoorregte kinders wat graag aan wedlope wil deelneem, maar nie skoene kan bekostig nie.
"Ek en Rainbow-atletiekklub wil die mense van George uitnooi om hul ou skoene vir 'n goeie doel te skenk. Dis 'n klein gebaar wat 'n groot verskil aan 'n kaalvoetatleet se lewe kan maak."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'