GEORGE NEWS - Die padwedloopseisoen word op Vrydag 26 Januarie ingelui wanneer Rainbow-atletiekklub en Top Gear Sport hul gewilde nagwedloop aanbied.
Dié jaarlikse joligheid begin om 18:00 by Top Gear Sport en eindig ook daar. Inskrywingsgeld vir die 5 km-wedloop is R30 en R60 vir die 10 km. Atlete met tydelike lisensies betaal R35.
Atlete wat aan die 5 km-wedloop wil deelneem moet minstens nege jaar oud wees en 14 jaar vir die 10 km-wedloop.
Alle atlete wat die afstande binne die afsnytyd voltooi sal medaljes ontvang. Die prysuitdeling vind om 19:45 plaas.
Kontantpryse is op die spel vir die topdrie in slegs die 10 km-wedloop. Gestremde atlete kan ook kontantpryse wen mits daar minstens drie atlete in dieselfde kategorie deelneem.
Stappers en atlete in rystoele is ook welkom.
Watertafels sal met 3 km-intervalle opgestel word en afstandmerkers elke kilometer.
Atlete moet hul klubkleure dra en die Atletiek Suid-Afrika (ASA) se 2018-lisensienommers moet op die voor- sowel as agterkant van frokkies aangebring word. Tydelike nommers hoef slegs op die voorkant vertoon te word.
Atlete kan by Top Gear Sport registreer. Voorafregistrasie sluit op Donderdag
25 Januarie om 17:00. Laatinskrywings kan op Vrydag 26 Januarie van 15:00 - 17:55 gedoen word.
Vir navrae bel Sidwell Oktober by 078 935 8489 of Amanda Stripp by 084 299 3392.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'