Update
GEORGE NUUS - Bouwerk aan die langverwagte tartanbaan by die Rosemoor-sportstadion sal na verwagting in Januarie aanstaande jaar begin. Dit is by navraag deur die George-munisipaliteit bevestig.
Die bou van die baan kom al 'n lang pad. Daar was al verskeie kinkels in die kabel en vertragings.
George Herald het reeds in Maart 2018 berig dat die weg gebaan is vir die bou van die baan. Geld is toe bewillig van die nasionale regering (Division of Revenue Act) en die munisipaliteit sou ook 'n bydrae lewer.
Leon van Wyk, George se burgemeester, het ook onlangs in 'n toespraak daarna verwys dat geld in die begroting opsygesit is vir die baan.
Ntobeko Mangqwengqwe, 'n munisipale woordvoerder, het gesê in die stadium is dit onmoontlik om inligting oor die bedrag beskikbaar te stel omdat dit die tenderpryse kan beïnvloed wanneer die projek op tender gaan.
In die eerste fase van die projek maak dit voorsiening dat alle atletiekkodes aktiwiteite sal kan beoefen. In toekomstige fases kan voorsiening gemaak word vir 'n hoofpawiljoen en ander geboue.
Op die vraag waarom daar nou eers vordering is het hy gesê daar is bepaalde prosesse wat gevolg moet word om 'n deel van die grond van 'n aangrensende primêre skool te onderverdeel wat by die bestaande stadion gevoeg moet word. Dit moet gedoen word sodat die baan behoorlik kan inpas by die stadion.
Christo Vrey, voorsitter van ASWD-afrigtersvereniging, het Dinsdag gesê daar is groot behoefte in George vir so 'n gerief. Die weersomstandighede is nie altyd van die beste hier nie. Daar is behoefte vir 'n fasiliteit wat regdeur die jaar gebruik kan word en atlete kan voorberei vir groot kampioenskappe. Van die atlete kry net twee keer 'n jaar 'n geleentheid om op so 'n baan deel te neem.
Daar is net een so 'n baan in die streek en dis in Oudtshoorn. So 'n baan sal vir veral tegniese items soos die spronge van groot waarde wees, en ook die deur oopmaak om kampioenskappe aan te bied. Hopelik sal dit elektroniese tydstelsels hê sodat dit op standaard is.
Hy het die bou van die baan verwelkom en gesê daar is groot opgewondenheid daaroor.
Joe Arendse, wat deel was van die oorspronklike beplanningskomitee vir die baan en op die oomblik voorsitter van landloop in ASWD is, het gesê hy steun die projek. George benodig so 'n baan.
Hy het gesê die baan sal plaaslike atletiek help. 'n Ander ligging sou egter beter gewees het want dit sou kon help om byvoorbeeld ten minste interprovinsiale kampioenskappe aan te bied.
Die bestaande atletiekbaan by die Rosemoor-sportstadion. Die foto is Maandag geneem. Foto: Eugene Gunning
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’