GEORGE NUUS - Die bou van 'n sintetiese atletiekbaan in George is 'n groot hupstoot vir sport in die Eden-gebied, het Abrie de Swardt, een van die Suid-Afrika se bekendste atletiekafrigters, gesê. Hy was in die verlede betrokke by atletiekafrigting van Suid-Afrikaanse atlete vir die Olimpiese Spele.
De Swardt was verheug toe hy verlede week in die George Herald lees dat 'n nuwe tartan-baan by die Rosemoor-sportstadion gebou gaan word.
Die geld sal bestee word uit sogenaamde Dora-fondse (Division of Revenue act) en die nasionale regering het R8,5 miljoen bewillig.
Op die oomblik is daar 'n tartanbaan in Oudtshoorn – sover bekend die enigste tartanbaan in die Tuinroete.
De Swardt, 'n inwoner van George, beywer hom al sedert die middel 90's vir die bou van so 'n baan in George. "Ek het in 'n stadium al amper moed opgegee."
Volgens De Swardt was daar in 1996 'n komitee, bestaande uit sport- en sakelui, wat gekyk het na die moontlikheid van 'n sintetiese baan vir George.
De Swardt was in daardie stadium adjunk-president van SWD Atletiek en voorsitter van die komitee.
'n Voorlegging is aan die stadsraad gedoen, maar 'n geldtekort het die idee gekelder.
In 2002/2003 het De Swardt, toe president van SWD-atletiek, weer 'n dokument vir die George-stadsraad opgestel.
Die plan was dat hy en Kidron Kaboni, 'n voormalige burgemeester en munisipale sportbeampte, die buiteland sou besoek om fondse te werf. Die raad sou hulle reis- en verblyfkoste betaal en die nuwe baan sou ook saamloop met die bou van 'n nuwe sportkompleks. Die reis was goedgekeur, maar die raad het later sy besluit herroep.
Hy het toe met die Oudtshoornse stadsraad gaan praat en hulle het die dorp se bestaande sintetiese baan opgradeer. Dit het daartoe gelei dat 'n reeks nasionale byeenkomste in Oudtshoorn aangebied is soos die Geelbladsye-reeks.
Voordele
Volgens De Swardt hou die nuwe baan verskeie voordele vir George in. "Ironies genoeg het die stad al die jare homself bemark as die sportmekka van die Tuinroete, terwyl hy nie 'n sintetiese baan gehad het nie."
Hy het gesê met die nuwe baan sal nie net atletiek bevoordeel word nie, maar ook verwante sportsoorte soos twee- en driekamp.
Voorts sal rugbyspelers spoedoefening op die baan kan doen.
Die nuwe baan maak ook die pad oop vir die aanbied van oefenkampe.
"Uit navorsing blyk dit dat van al die kusstede, George die minste wind kry. Vir rekord-doeleindes is dit van deurslaggewende belang."
Volgens De Swardt sal dit ook help met skole-atletiek en sportontwikkeling.
"George se ligging is ideaal. Dit is by 'n groot nasionale lughawe en die stad beskik oor die meeste verblyf in die Suid-Kaap."
ARTIKEL: EUGENE GUNNING
Lees 'n vorige artikel: Tartan athletics track for George
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'