GEORGE NUUS - Aanduidings is dat die bou van George se eerste tartanatletiekbaan by die Rosemoor-sportstadion voortgaan. Die aangeleentheid is Dinsdag tydens 'n vergadering van die stadsraad se portefeuljekomitee vir gemeenskapsontwikkeling, biblioteekdienste en sport bespreek.
Wilbur Harris, lid van die George-stadsraad, wat geveg het om te verseker dat George so 'n baan kry, het na die vergadering gesê hy het vrae oor die beplande baan gevra.
Hy is meegedeel dat tenders reeds gesluit het en dat dit binne die volgende drie maande toegeken behoort word. Bouwerk kan reeds later vanjaar begin.
Harris het die jongste verwikkelinge verwelkom en gesê dit klaar onsekerheid uit die weg.
Die George Herald het reeds in Maart 2018 berig dat die weg gebaan is vir die bou van die baan. Sedertdien was daar verskeie kinkels in die kabel en verskonings is aangevoer vir die vertragings. Verlede week is berig dat byna twee jaar nadat dit bekend geword het dat George so 'n baan kan kry, is dit steeds nie 'n werklikheid nie.
Na die berig het dit gegons op Facebook. In die algemeen was mense ten gunste van so 'n baan, maar daar is ook gevra of die Rosemoor-sportstadion die regte plek is. Sommige het dit gesteun en ander was daarteen.
Die internasionale bekende en Olimpiese atleet, Elroy Gelant het op Facebook onder meer geskryf oor die ligging van die voorgenome baan.
Hy het geskryf dat gekyk moet word na Witfontein of Saasveld of Outeniquapark (omskep in multi-dissiplinêre sportkompleks).
"Vanuit 'n atleet se oogpunt is daar groot suurstof op hierdie plekke met die natuurlike woude en berghange. Laasgenoemde maak dit moontlik vir atlete om goeie tye te hardloop wat weer nasionale en moontlik internasionale atlete en toeskouers ook sal lok (goeie ekonomiese inspuiting vir George). Die geïdentifiseerde plekke is ook baie meer windstil as langs N2 (net my opinie as atleet)!
"Rosemoor is te klein om 'n wêreldklas-baan te bou; infrastuktuur!!! tensy ons 'n oefenbaan vir skole wil bou dan kan hul voortgaan."
Hy het Dinsdag gesê hy verwelkom so 'n baan, maar dit is baie belangrik waar dit gebou word. Hy het niks teen die Rosemoor-sportstadion nie.
Dit moet net deur die groter gemeenskap van George benut kan word. Hy het bygevoeg: "Atlete moet 'n passie hê. 'n Tartanbaan kan help, maar dit gaan nie noodwendig 'n verskil maak nie."
Lloyd Bosman, internasionaal bekende atleet van George, het gesê in beginsel is so 'n baan goed. Hy stem saam met Gelant dat dit belangrik is waar dit gebou word.
By die vestiging van so 'n baan moet verskeie faktore in aanmerking geneem word soos byvoorbeeld parkeergeriewe, veiligheid en toegangsroetes.
IN SHORT
All indications are that the planned new tartan athletics track at the Rosemoor Sport Stadium will go ahead. The matter was discussed on Tuesday at one of the committee meetings of the George Municipal Council. George Herald reported last week that the track is still not in place, nearly two years after it was announced that it was in the pipeline. Since then doubts have also been expressed whether Rosemoor Sport Stadium is the best place for such a track.
Lees verwante artikels:
- Steeds geen tartanbaan
- Tartanbaan gaan wel gebou word
- George gaan beslis 'n tartanbaan kry
- Tartanbaan bring talle voordele
- Tartan athletics track for George
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'