Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die man wat hard geveg het om te verseker dat George 'n tartan-atletiekbaan kry, Wilbur Harris, soek antwoorde.
Harris, 'n stadsraadslid wat naby die Rosemoor-sportstadion woon, wil duidelikheid hê oor hoe en wanneer die baan realiteit gaan word.
Die George Herald het in Maart berig dat die weg gebaan is vir die bou van die baan. Geld is bewillig van die nasionale regering (Division of Revenue Act) en die munisipaliteit sal ook 'n bydrae lewer.
Volgens Harris is tydens 'n onlangse raadsvergadering besluit dat die stadsraad sowat R2,4 miljoen beskikbaar sal stel. Dit is benewens die R8,5 miljoen uit die nasionale geldkoffers. Die munisipaliteit se bydrae sal wys in die aansuiweringsbegroting.
Een van die vereistes was dat die munisipaliteit ook 'n bydrae maak. Die tendervereistes is reeds deur die stadsraad se sport en rekreasiekomitee goedgekeur.
"Ek het navraag gedoen en wil hê die projek moet voortgaan. Daar is R8,5 miljoen beskikbaar. Dit wil voorkom of die begindatum van konstruksie in die stadium een van die haakplekke is."
Harris is van voorneme om 'n brief aan Trevor Botha, die munisipale bestuurder, te skryf oor die aangeleentheid. Dis 'n belangrike projek waarby die hele gemeenskap en ook mense buite George gaan baat.
"Verwagtinge is geskep. Die publiek wil weet wat aan die gang is. Daar kan nie met die projek gesloer word nie. Ek het met onderwysers by skole gesels. Hulle is baie opgewonde en sê dat hulle in die toekoms nie meer soggens vroeg Oudtshoorn sal hoef te ry nie. Dit is waar die kinders oefen-op Oudtshoorn se tartanbaan."
Sover hy kon vasstel sal die projek in verskillende fases afgehandel word. In die eerste fase sal die opgradering van die baan aandag kry. In die ander fases sal die opgradering van ander geriewe aandag kry.
Harris is bekommerd oor die toestand van die huidige grondbaan. In Januarie sal van die rugbyspelers ter voorbereiding van die rugbyseisoen daar oefen. Hy sal wil sien dat die tartanbaan al gereed is in die helfte van aanstaande jaar sodat atletiek daar aangebied kan word. Walter Hendricks, direkteur gemeenskapsdienste van die George-munisipaliteit, het by navraag gesê daar word gehoop dat konstruksie in die helfte van aanstaande jaar kan begin.
Hy het benadruk die projek gaan beslis voort. "Ons verwelkom dit en is opgewonde. Die baan sal provinsiale atletiek na George kan lok."
Tydens die George Herald se besoek aan die bestaande grondbaan, was twee inwoners besig om daar te oefen.
Patrick Lewis het gesê hy verwelkom dit dat 'n nuwe baan gebou gaan word. "Ek hoop dit help met atletiek en om mense fiksheidsbewus te maak."
Jano Jantjies het gesê dit sal 'n verskil maak aan kinders se lewens. Dit sal hulle help om weg te bly van euwels. "Sport beteken baie vir 'n gemeenskap."
Kyk 'n video hieronder.
Wilbur Harris wys na die toestand van die bestaande grondbaan by die Rosemoor-sportstadion.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'