Die passievolle Jacques Mouton en plaaslike avontuursport sensasie Landie Visser het weer hulle krag en besondere tegniese vaardighede op ongebaande terrein gewys tydens die byeenkoms by die Grootvadersbos Natuurreservaat buite Heidelberg.
Albei hardlopers het algeheel eerste op die podium geëindig.
Die wedloop word oor ‘n totale afstand van 50 km oor twee dae in ‘n takserende, maar asemrowende natuurlike omgewing in die Langeberge beslis.
Kort op hulle hakke was Christiaan Greyling, Eddie Mouton en Jacques Goussard wat ook besondere staal gewys het deur die tweede dag riviere en berge in gietende reën te trotseer.
Tydens die Houtbay Trail Challenge in Kaapstad kon GTR se uitblinkers weer hulle merk maak. Die keer in ‘n gedugte spankompetisie oor ‘n totale afstand van 36 km in die berge in die Houtbaai-omgewing. Mouton, Visser en Greyling, wat in ‘n gemengde aflosspan deelgeneem het, kon ‘n algehele derde plek behaal in die wedloop wat as een van die mooiste, maar taaiste roetes in die Wes-Kaap geoormerk word.
Trisport het die afgelope Sondag ook ‘n unieke byeenkoms by die Botlierskop Privaat Wildsreservaat aangebied waar hardlopers die geleentheid gehad het om die ongebaande roete met verskeie inwonende wildsoorte te deel.
Die wedloop is vanjaar vir die eerste keer aangebied en kon heelwat nuwe belangstellendes tot die sport lok vir ‘n onvergeetlike hardloop-ervaring.
Visser het weer die rem losgemaak en ‘n oortuigende eerste plek onder die vroue en algehele vyfde plek behaal terwyl Mouton weer sterk deurgekom het om ‘n algehele tweede plek te behaal.
Almal het groot bewondering gehad vir die nuweling, die 16 jarige Sarah Erasmus, wat die roete kaalvoet voltooi het.
Die George Trailrunning Group bied ‘n weeklikse tydtoets aan vanaf die Botaniese Tuine op Donderdae om 17:30. Belangstellendes kan die groep op Facebook besoek.
_jpg.jpg)
Atlete wat aan die jongste trail-running tydtoets deelgeneem het, is (van links) Elize Kloppers, Suzaan Kruger, Herman Botha, Tanya Faber, Eddie Mouton, Jacques Goussard, Tina van Wyk en Christiaan Greyling.