Video
GEORGE ATLETIEK NUUS EN VIDEO - George se eie wêreldkampioen, Miré Reinstorf (19), het Dinsdagmiddag, 24 Augustus, in George aangekom nadat sy Woensdag 18 Augustus tydens die o.20 wêreldkampioenskappe in Nairobi, Kenia die paalspring vir vroue gewen het.
Sy het op 'n hoogte van 4,15 m oor die dwarslat gespring en daarmee het sy die wêreldtitel verower en ook 'n goue medalje gewen. Reinstorf is 'n voormalige SWD-atleet en leerling van Hoërskool Outeniqua.
Op die George-lughawe is sy ingewag deur onder meer haar ouers, Peter en Vinia Reinstorf, haar boeties, Hägan en Lucca, en vriende.
Later het sy na haar ouers se huis vertrek waar sy vir 'n paar dae gaan kuier voordat sy die naweek na Stellenbosch terugkeer waar sy aktuariële wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.
Reinstorf het aan George Herald gesê dis lekker om weer terug te wees by die huis. "Ek het aan die kampioenskappe gaan deelneem om my beste te doen en het nie 'n medalje verwag nie. Na die spronge het ek nog nie besef ek het gewen nie. Dit was eers nadat my afrigter my 'n drukkie gegee het, dat ek besef het ek is die wenner. Dit was 'n amazing gevoel. Dit het nie onmiddellik ingesink nie, eers later het ek besef ek is nou die o.20-kampioen."
Die medaljes is die volgende dag oorhandig. Toe Suid-Afrika se volkslied gespeel is, was sy trots. "Ek was net só trots om vir Suid-Afrika te kon deelneem."
Kyk 'n video hieronder:
Mikpunte vir die toekoms
Een van haar volgende mikpunte is om te kwalifiseer vir aanstaande jaar se Statebondspele in Birmingham. Sy sal ook graag 4,30 m wil spring.
Reinstorf sal ook baie graag aan die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk in 2024 wil deelneem. Met die wen van dié titel het sy besef dit is moontlik.
Op skool het sy nooit gedink aan deelname aan die Olimpiese Spele nie. Dis iets wat sy nie gedink het sy kan doen nie.
Miré Reinstorf (19) saam met haar familie. Van links is Hägan (boetie), Peter (pa), Miré, Vinia, (ma) en Lucca (boetie).
Voordat sy na die Olimpiese Spele kan gaan sal sy nog baie moet oefen. As dinge reg loop sal sy nog 10 jaar wil deelneem en moontlik aan twee Olimpiese Spele deelneem. As sy aan 'n derde Olimpiese Spele kon deelneem sou dit 'n bonus wees.
Sy sal ook baie graag die senior Suid-Afrikaanse vrouepaalspringrekord van 4,42 m wil breek.
INLAS - Miré Reinstorf hou die goue medalje vas wat sy gewen het. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'