GEORGE NUUS - Danksy die vasbyt van Heinrich Muller om 'n Comrades tussen Plettenbergbaai en George te hardloop, het die jeugbediening van die AGS Soteria-gemeente 'n groot hupstoot gekry.
Muller (51), 'n inwoner van George, het vroeg die oggend van 13 Junie alleen die pad aangedurf in die projek wat bekend gestaan het as "Comrades for Hope" Soteria Jeugbediening Fondsinsameling.
Dit was dieselfde dag wat verskeie mense aan wedlope regoor die land deelgeneem het ter viering van die 100-jarige bestaan van die Comrades.
Hy was kort na 18:00 in George. Met sy poging het hy altesaam R27 500 ingesamel.
Dit was nie die eerste keer dat hy die afstand gehardloop het nie. In 1993, toe hy 23 jaar oud was, het hy formeel die Comrades van Pietermaritzburg na Durban gehardloop.
Ondersteuners by die einde by Shell Kraaibos.
Volgens Muller was dit die keer 'n groot uitdaging want hy is ouer en hy het alleen gehardloop. Hy woon in George en is 'n gemeentelid van Soteria-gemeente. Hy is 'n kranige driekampatleet en hardloop vir Team Vitality. Muller hou van die tipe uitdagings waarin hy sy sport kan gebruik om 'n verskil in ander se lewens te maak.
In November 2020 het hy ook 'n solo ysterman afstand afgelê om fondse vir die ACVV in te samel.
Die geld van sy jongste poging gaan aangewend word vir die opgradering van die jeugbediening se fasiliteite.
Hy beplan nog 'n uitdaging waarmee hy fondse wil insamel en hy sal later meer besonderhede bekendmaak. Hy geniet dit om sulke lang afstande te hardloop. "Dit motiveer my omdat ek weet dit is vir 'n spesifieke saak wat ek dit doen."
Die oorhandiging van 'n donasie deur Spar Shell Kraaibosch personeel aan pastoor Riaan Bezuidenhout van AGS Soteria-gemeente en Heinrich Muller.
Muller het benadruk om sulke uitda-gings aan te pak moet 'n mens 'n goeie ondersteuningspan hê. Sonder sy gesin, Johan le Grange (wat voertuig ondersteuning verskaf het), vriende en gemeente ondersteuners langs die pad, sou dit nie moontlik gewees het nie.
Mense is steeds welkom om donasies te maak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'