GEORGE NUUS - Die koue en nat weeromstandighede op Donderdag 26 Desember kon nie entoesiastiese atlete en stappers weghou van die Pacaltsdorp-nagwedloop nie. Die geleentheid, voorheen bekend as die Elroy Gelant-nagwedloop, is deur die George-munisipaliteit aangebied.
Daar was twee roetes, oor 4 km en 8 km, waaruit atlete kon kies. Albei het by die verkeersde-partement in Missionstraat begin en geëindig.
Lloyd Bosman van Pacaltsdorp was die wenner van die mans 8 km-wedloop met 'n tyd van 22:19, met Timothy Anthony in tweede plek met 23:30 en Selwyn Matthews in derde plek met 24:05.
Stephany Petro was eerste oor die wenstreep in die vroue 8 km-wedloop met 'n tyd van 29:49, Mary-Jo Fortuin tweede met 40:28 en in die derde plek was Judy Zeelie met 40:58.
Aneke Charles was eerste in die 4 km vir vroue met 18:36 en in die 4 km vir mans was Zeevan Leroy die wenner met 'n tyd van 13:10.
Die Olimpiese atleet Elroy Gelant, 'n boorling van Pacaltsdorp, was 'n groot trekpleister by die geleentheid en het saam met atlete die roete voltooi terwyl sterk reënbuie by tye uitgesak het.
Die oud-Springbok Zane Kirchner het ook aan die 8 km-wedloop deelgeneem.
Die top drie vroue in die 8 km-wedloop, Mary-Jo Fortuin (tweede), Stephany Petro (eerste) en Judy Muller (derde), saam met Basil Myners van BM Skills Development (links), en Sidwell Oktober van Rainbow-atletiekklub (regs). Foto: Braam America
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'