ATLETIEK NUUS - Wanneer Suid-Afrika se beste skoolnaellopers saam in die blokke sak, word 'n wenner gewoonlik eers met 'n fotobeslissing bepaal.
Maar wanneer die Outeniqua-blits Jayden Fourie daar is, wys hy hakskene vir sy naaste teenstanders.
By die pas afgelope Curro Podium-atletiekbyeenkoms in Pretoria het die 16-jarige ster behoorlik sy teenstanders laat agterbly.
Hy het eers die 200 m vir seuns o. 17 in 'n rekordtyd van 20,97 sekondes gewen - vinniger as die vorige 20,99 - en een van die gunstelinge, Lwellyn van Heerden (Menlopark), met meters geklop.
Kort daarna het hy nóg 'n punt bewys: in die 100 m het hy sy persoonlike beste tyd van 10,48 sekondes na 10,38 verbeter en terselfdertyd die byeenkomsrekord van 10,44 sekondes uitgewis.
Daarmee het hy met die land se beste skolenaellopers afgereken.
Wen teen die pyn
Wat dié prestasies merkwaardig maak, is dat Jayden vir byna twee maande skaars kon oefen.
Weens 'n stresfraktuur kon hy nie voluit naellope doen of sy kondisionering slyp nie. Op sy beste kon hy slegs twee 30m-versnellings hardloop voordat hy moes stop. Die meeste van sy voorbereiding het in die swembad plaasgevind - ver van 'n tartanbaan.
En tog lewer hy loopbaanbeste tye teen die sterkste moontlike kompetisie.
In sy ouderdomsgroep is hy tans die vinnigste oor 100 m én 200 m wêreldwyd (volgens beskikbare skoolstatistiek), en hy beklee ook die tweede plek in verspring - 'n aanduiding van sy uitsonderlike veelsydigheid.
Die seun agter die spoed
Ten spyte van die aandag bly Jayden opvallend nederig.
"Hy's 'n kind met sy voete stewig op die aarde," sê sy pa en afrigter, Johnny Fourie. "Geen greintjie verwaandheid nie, net 'n stille vasberadenheid om beter te word."
Onderwysers beskryf hom as beleefd en doelgerig; selfs ná 'n wedloop bly sy glimlag breed en sy handdruk ferm.
"Hy laat sy dade op die baan die praatwerk doen," sê Johnny. "Baie jong atlete raak gou grootkop - en dis wanneer hulle val. Sy geaardheid maak hom 'n inspirasie vir ander."
Kalm wanneer dit tel
Nog 'n eienskap wat hom onderskei, is sy koelkop.
"Ek stres my dood," lag Johnny, "maar hy bly rustig - gefokus en presies. Dis wat groot atlete anders maak."
Die pad vorentoe
Johnny rig hom af sedert agtjarige ouderdom - met een voorwaarde: volle toewyding.
Sedertdien gee Jayden, wat ook eens rugby gespeel het, alles vir atletiek.
Die ondersteuning strek wyer as net tuis.
By Hoërskool Outeniqua, sê Johnny, werk personeel en afrigters saam om talent te ontwikkel - selfs tot die punt waar 'n verspringput se sand teen groot koste vervang is sodat atlete optimaal kan presteer.
Hy gee ook krediet aan sy vrou, Amelia: "Sy hou alles agter die skerms aan die gang. Sonder haar sou ons dit nie kon doen nie."
Maar Jayden se grootste prestasie lê dalk nie in meters of sekondes nie, maar in sy vermoë om altyd die lat hoër te stel - letterlik én figuurlik.
Met sy nederigheid, ysere wil en pure talent is hy reeds besig om sy eie hoofstuk in Suid-Afrikaanse atletiekgeskiedenis te skryf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’