TUINROETE ATLETIEK NUUS - Die Covid-19-pandemie het nog 'n sportslagoffer geëis. Ten spyte van talle pogings deur die Eden Straat- en baanmylreeks se reëlingskomitee om dié gewilde vakansiereeks te red, het Covid ook hier die laaste sê gehad.
Die straatmylreeks is die afgelope twee jaar verder uitgebrei met 'n baanmylbeen in Oudtshoorn. Vanjaar sou dit verder uitgebrei word om ook 'n klompie kort baanwedlope en een of twee velditems in te sluit.
Atletiek Suid-Afrika (ASA) en Atletiek SWD (ASWD) het toestemming vir die baanbyeenkoms gegee, maar ongelukkig het die Klein-Karoo (Oudtshoorn) asook die ATKV-straatmyle (Hartenbos) in die slag gebly.
Omdat dit as 'n reeks aangebied word om dit meer koste-effektief vir die atlete te maak, is daar besluit om eerder die reeks te kanselleer en 'n vergrote reeks vir 2021 te organiseer.
Die KKAF, organiseerder van die reeks sedert sy bestaan in 2009, het hul innige simpatie uitgespreek teenoor die atlete vir die ongerief, maar daar was ongelukkig geen alternatief nie. Alle moontlike opsies is oorweeg.
Die primêre borge het saamgestem dat die organiseerders aan die einde van die dag die beste besluit geneem het.
Die KKAF het sy innige dank uitspreek teenoor almal wat so positief was om die reeks wel te laat realiseer, veral die reëlingskomitee wat tot op die laaste vir oplossings gesoek het. Hans van der Veen, voorsitter van KKAF, het egter beloof dat die 2021 reeks net groter en beter gaan wees. "Die teleurstelling mag groot wees, maar die passie vir die sport is nog groter…"
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'