Met dié boodskap het Duppie du Preez, visepresident van Outeniqua Harriers, die 25 atlete van dié klub sterkte toegewens vir die naweek se Comrades-maraton.
Outeniqua Harriers het, soos gebruiklik, sy atlete op 'n pasta-aand onthaal vóór hul vertrek om die moordende op-wedloop tussen Durban en Pietermaritzburg aan te durf. Verskeie ander atlete uit George gaan ook in aksie wees.
Sewe lede van Outeniqua gaan vir die eer-ste keer deelneem. Hulle is Bertie Janse van Rensburg, Liesel en Danie Leonard, Jacques Goussard, Karen Venter, Stevie Joubert en George Bathcholer. Maar daar is darem ook 'n paar ou hande by wat kan raadgee. Gareth Gritthiths neem aan sy 22ste Comrades deel en sy vrou, Mariaan, hardloop in haar tiende wedloop, wat sal verseker dat sy in die toekoms met 'n permanente nommer sal deelneem.
Alf Zehmke, president van Outeniqua Harriers, het by die afskeidsete gesê hy hoop dat al 25 atlete die wedloop sal voltooi en met medaljes sal terugkeer. "Maar mens moet ook realisties wees, want die op-wedloop is nogal 'n groot toets. Ons vestig ons hoop op drie atlete om ten minste met silwermedaljes terug te keer."
Die drié is Jacques Mouton, wat aan sy veertiende Comrades deelneem, Stevie Joubert en Vujo Witbooi.
Du Preez, wat die Comrades al elf keer voltooi het, het aan die George Herald gesê ná sy tiende wedloop het hy besluit om voortaan net aan die af-wedloop deel te neem. "Die af-wedloop is vir my makliker hoewel mens seerder is ná die wedloop. Vir die moeiliker op-wedloop moet mens deegliker voorberei en baie kragwerk doen."
Verskeie groot name is weer Sondag in aksie, onder andere die oudbaanatleet, Zola Budd. Die Zimbabwiër, Stephen Muzhingi gaan sy titel in die op-wedloop verdedig en kan sterk teenstand verwag van verlede jaar se wenner, Ludwick Mambolo.
Die groep van Outeniqua was sigbaar opgewonde oor die groot uitdaging wat voorlê en as entoesiasme die enigste maatstaf sou wees, kan 'n paar van die "draers van die geel frokkies" die gunstelinge dalk verras. Hou maar Sondag die TV dop ...
* Die pasta-aand is vir die vyftiende jaar deur Fanie van Rooyen van Nedbank Besigheidsbank geborg.
Hierdie groep atlete van Outeniqua Harriers gaan Sondag aan die Comrades-wedloop tussen Durban en Pietermaritburg deelneem. Die 25 atlete is Dinsdagaand deur Nedbank Besigheidsbank op 'n pasta-aand onthaal voor hul vertrek na Durban. Alf Zehemke, president van Outeniqua Harriers, staan heel regs. Foto: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'