OPINIE - Soos die meeste goeie planne, is dié een ook in 'n kroeg gebore. In ons eie Legends in Riversdal.
'n Skaflike kuierplek waar jonk en oud ná werk byeenkom om oor sake van die dag te klets. Nie juis diep intellektuele of selfs fatsoenlike gesprekke nie, maar dis nie waarop Legends hom roem nie.
Hier het verskeie besoekers al legendariese status sonder veel inspanning verwerf wat, danksy gerugstrooiers, dorpswyd fluks versprei is.
En dis hoe die uwe by 'n perdewedren beland het. 'n Blink plan, oor 'n koue skuimkop, om die Kaapse Met in Kenilworth te gaan bywoon. 'n Vriend (ek sal sy ware naam weerhou om sy huwelik te beskerm) oorreed my om die Met in Kaapstad te gaan bywoon.
Groot geld te wen en hy het vuurwarm wenke wie die groot gunstelinge is.
Drie van die gunstelinge is glo hier in Hessequa geteel: Sleeping Beauty, Make it Snappy en See it Again.
Vriend Dieter is moontlik die swakste kenner van perde in sonnige Suid-Afrika en siende dat my kennis van perde so wyd strek soos die besef dat hulle vier bene het met 'n kop van voor en 'n stert van agter, word die voorgestelde Kaapse ekskursie skielik onkeerbaar.
Onder valse voorwendsels (om Dieter se huwelik te beskerm) verlaat ons Riversdal en verkas ons na Kaapstad. By Kenilworth aangekom, omring Dieter hom met 'n groepie vriende, almal perdekenners. Dit runnik soos die klomp saamkloek en die gunstelinge bespreek.
Dieter stem saam met hul twee eerste keuses en ons wed 'n stewige bedraggie op die vierbeenkampioene. Bingo, en ons maak geld.
Die derde keuse was nie heeltemal in die kol nie, maar goed genoeg om wel voort te beur.
Tot groot spyt neem ambisie hier oor. Dieter besluit hy gaan sy "natuurlike instinkte" op die proef stel. "Los die volgende keuses oor aan my," koer een van die voorste kenners van perdevleis in Hessequa aan my.
Ons hou die volgende paar wedrenne in die kroeg op die hoofpawiljoen fyn dop. Dieter loop te vertel dat hy die Met op sy kop gaan keer met sy wenvoorspellings. "Ek gaan Kenilworth se wedders vandag met my slim keuses oorrompel," voorspel hy vol bravade.
Die res van die middag was, om die minste te sê, rampspoedig.
Sleeping Beauty het toe nooit behoorlik wakker geskrik nie en Make it Snappy was so stadig dat die organiseerders dit ernstig oorweeg het om die wegspring van die volgende wedren te vertraag. See it Again is nou nog soek.
Die doodsteek vir my was toe Dieter vra: "Wie se idee was dit om die perdewedrenne in die Kaap te gaan bywoon?"
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.