GEORGE NUUS - Pres. Cyril Ramaphosa moet 'n regering van "nasionale genesing" vestig. Dit is die wekroep van prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en sakewetenskap by die Universiteit van die Witwatersrand.
Rossouw het verlede naweek die Suid-Kaap as 'n gas van die AHi Wes-Kaap besoek. Kort voor sy terugkeer na Gauteng het hy met die George Herald gepraat.
Rossouw het gesê so 'n regering sal werk. Dit is belangrik want die gees in die land moet omgedraai word. Mense besef die land is in 'n gat en selfs die engel Gabriël sou handdoek ingegooi het.
Verteenwoordigers van opposisie politieke partye kan in so 'n regering van nasionale genesing dien en dit kan funksioneer op die basis van 'n veelparty regering. Dit hoef net vir 'n beperkte tyd gevestig te word tot die politieke klimaat in die land verbeter het. Hy het steeds hoop en glo die uitdagings moet aangespreek word.
Volgens hom is die ekonomiese voorspoed afhanklik van die politiek. Om ekonomiese voorspoed te kry, moet daar politieke verandering wees. As daar nie politieke leiding is nie sal daar nie ekonomiese voorspoed wees nie.
Vir ekonomiese groei is dit nodig om werkloosheid aan te spreek. Die ekonomiese groei is stadiger as die huidige bevolkingsgroei. Dit moet aangespreek word en volgens hom stuur die land op 'n demografiese ramp af. Die regering se vermoë om meer belasting te genereer is omtrent uitgeput. Pres. Ramaphosa kan nie aan al die verwagtinge voldoen nie.
Benewens 'n regering van nasionale genesing is ander stappe wat geneem moet word die aanspreek van korrupsie in die openbare en privaat sektor. Mense wat byvoorbeeld gesteel het, moet tronk toe.
Oor die pas afgelope verkiesing het Rossouw gesê die grootste verloorder was nie die politieke partye wat dit nie gemaak het nie, maar die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) self. Dit is met verwysing na voorvalle wat tydens die verkiesing plaasgevind het en aandui dat alles was nie altyd vry en regverdig nie.
Die OVK se reputasie is aangetas en die OVK-kommissarisse moet die eerbare ding doen en bedank, het hy gesê. 'n Forensiese ondersoek behoort ook gedoen te word.
Dit is belangrik want mense moet vertroue in die OVK hê met die oog op toekomstige verkiesings.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'