GEORGE NUUS - Die volgende fase van munisipale padopgraderings in George wat ‘n uitwerking op die Go George-busdiens sal hê, begin op Maandag 24 Augustus.
Hierdie werk aan die padoppervlak tussen Vierdestraat en Mandelaweg asook die kruising by Pine Lodge in Knysnaweg behels ’n asfalt-sluitlaag bo-oor al vier bane en sal na verwagting teen die eerste week in Oktober voltooi wees.
Aangesien die werk in een laan op ’n keer gedoen sal word, word geen herleiding van roetes verwag nie. Weens stadiger enkelbaan-verkeer moet vertragings egter te wagte wees oor die hele stelsel en veral op roetes wat die oostelike dele van die dorp bedien.
Passasiers word aangeraai om meer tyd toe te laat vir hul busritte, veral gedurende spitstyd.
Bushaltes tydelik gesluit
Bushaltes wat hierdeur geraak word, sal vir kort periodes op ’n keer gesluit word en tydelike bushaltes vir passasiers se gerief sal in die nabye omgewing opgerig word.
Bushaltes in Knysnaweg wat met tussenposes geraak sal word is 709 Fourth B voor PnP, in die rigting van die Garden Route Mall uit die middedorp, en 706 Saasveld, in die rigting van die middedorp vanaf die Garden Route Mall.
Plakkate wat passasiers bedag maak op die situasie word by hierdie bushaltes aangebring.
Go George maak verskoning vir die ongerief en doen ’n beroep op padgebruikers om geduldig en versigtig te wees naby die konstruksiegebied en bushaltes.
Verwante artikel | Knysna Road: Phase 2 roadworks
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'