GEORGE NUUS - Die vreugdevure het vroeër vandag, Sondag 8 November, hoog gebrand by die George-burgersentrum waar die Demokratiese Alliansie (DA) sy oorwinning in die pas afgelope plaaslike regeringsverkiesing gevier het.
Die party het ‘n volstrekte meerderheid behaal en 28 van sy lede sal hul sitplekke op 18 November inneem wanneer die nuwe raad die eerste keer vergader.
Die DA kan nou op sy eie regeer en het dus nie meer nodig om ‘n koalisie te vorm nie. Tot voor verlede Woensdag was die DA, die Vryheidsfront Plus (VF Plus) en die African Christian Democratic Party (ACDP) gesamentlik in beheer van die raad. Die Patriotiese Alliansie (PA) het nou 11 verteenwoordigers, die African National Congress (ANC) 8, die VF Plus 4 en die Economic Freedom Fighters (EFF), ACDP, Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI) en Good elkeen 1.
Verskeie DA-ondersteuners het reeds van voor 11:00 vanoggend naby die burgersentrum in Yorkstraatv bymekaargekom. ‘n Rukkie later het hulle afbeweeg na die hoek van Yorkstraat en Nelson Mandelaweg. Teen omstreeks 11:30 het hulle onder begeleiding van ‘n orkes teruggestap na die burgersentrum. Verskeie verbygaande motoriste het getoet en vriendelik gewaai.
By die burgersentrum het Browen Johnson, wat weer die burgemeestersketting gaan dra, aanwesiges toegespreek.
Aan die begin van die verkiesingsveldtog het hy verklaar dat die mikpunt is om ‘n volstrekte meerderheid te behaal. Daarin is nou geslaag, het hy ges?.
Hy het die nuwe situasie as ‘n onwerklike gevoel beskryf. Die inwoners van George het vertroue in die DA geplaas om die stad vorentoe te neem. Hy het ook ‘n boodskap gehad vir mense wat onder die DA-vaandel verkies is. As iemand dink hulle is daar vir ‘n vyf jaar vakansie, is hulle by die verkeerde plek, het hy gesê.
Tertuis Simmers, Wes-Kaapse DA-leier, het almal bedank wat die party gehelp het om in die verkiesing sukses te behaal. Hy het spesifiek na inwoners en kiesers verwys en hulle bedank vir hul rol.
DA-ondersteuners Sondag op pad na die George-burgersentrum. Foto: Eugene Gunning
Johnson het later aan George Herald ges? deel van die DA se sukses is omdat kiesers die afgelope 11 maande die verskil in George gesien het wat plaasvind.
Oor kritiek wat ontstaan het nadat die voorgestelde nuwe eiendomswaardasieslys ‘n dag nà die verkiesing uitgereik is, het hy gesê die “item is reeds vroeër deur die raad geneem”. Eiendomswaardasies is nou in die hersieningstermyn.
Hy het toegegee dat die dag van uitreiking nie perfek is nie. Die uitreiking daarvan is deel van ‘n administratiewe proses. “Ek was nie spesifiek bewus dat die administrasie dit ‘n dag nà die verkiesing sou uitreik nie. Ek het geweet dit sou kom, maar nie geweet wanneer nie. Dit was toevallig dat dit ‘n dag nà die verkiesing uitgereik is.”
Simmers het aan George Herald ges? die betrekking van ander partye is iets waaraan nou aandag gegee word. Ofskoon die DA ‘n volstrekte meerderheid behaal het, glo die party aan nederigheid. Daar is nou twee vorige lojale koalisievennote wat in die opposisiebanke gaan sit.
As provinsiale leier glo hy saam met die federale leier aan ‘n effektiewe oorsigrol van die regerende party. Daar is ander strukture waardeur die vorige koalisievennote betrek kan word.
VIDEO: EUGENE GUNNING
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’