GEORGE NUUS - Alledaagse voorwerpe soos ’n ou kwitansie, ’n silwer trofee of ’n houtriempiesbank kan waardevolle leidrade oor ’n familie se geskiedenis bevat.
Dit was die boodskap tydens die Oktobervergadering van die Suid-Kaap-tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, waar lede familieskatte en die stories daaragter met mekaar gedeel het.
Die interaktiewe byeenkoms is op Woensdag 21 Oktober by die George-museum gehou. Die lede is genooi om ’n voorwerp, foto of dokument uit hul familiegeskiedenis saam te bring en te vertel wat dit oor vorige geslagte onthul.
Die fokus was nie op die geldwaarde of skaarsheid van die items nie, maar op die mense, herinneringe en persoonlike geskiedenisse wat daardeur bewaar word.
Onder die voorwerpe was ’n ou kwitansie vir ’n jongman se eerste saal. Dit vorm deel van ’n versameling van sowat 330 dokumente wat oor ongeveer 40 jaar, van 1900 tot 1940, strek. Saam bied die dokumente ’n blik op die alledaagse transaksies en omstandighede van ’n boerefamilie in die Albertinia-distrik.
’n Silwer trofee, die Brandfort Challenge Cup, verbind ’n ander familie met ’n sportprestasie uit 1906 en 1907, wat met ’n lid se oupa verband hou. Die presiese geleentheid waarvoor die trofee toegeken is, is egter nog nie vasgestel nie en verg verdere navorsing.
’n Houtriempiesbank vertel weer ’n verhaal van verlies en heropbou ná die Anglo-Boereoorlog. Volgens die familieverhaal is hout van ’n ossewa gebruik om die bank te maak nadat die familie se plaashuis en besittings heeltemal vernietig is. Die bank het mettertyd ’n simbool van die familie se herstel en hoop geword.
Hierdie voorbeelde het gewys hoe ’n enkele voorwerp navorsing oor familieverbintenisse, historiese gebeure en die lewensomstandighede van vorige geslagte kan stimuleer. Dit kan ook nuwe vrae laat ontstaan oor wie ’n item besit het, waar dit gebruik is en hoe dit deur die jare behoue gebly het.
Die Brandfort Challenge Cup.
Belangrikheid daarvan om familiekennis op te teken
Die vergadering het terselfdertyd die belangrikheid beklemtoon om familiekennis op te teken voordat stories verlore gaan wanneer ouer familielede nie meer daar is om dit te vertel nie.
Om dié proses te vergemaklik, het die tak ’n eenvoudige eenbladsy-sjabloon ontwikkel waarmee lede ’n voorwerp kan beskryf, die betrokke mense kan identifiseer en die verhaal en genealogiese betekenis daarvan kan aanteken.
Weens die sukses van die byeenkoms is besluit dat die Familieskatkis-sessie voortaan gereeld deel van die tak se jaarprogram sal uitmaak.
Lede het tydens die interaktiewe byeenkoms by die George-museum hul familieskatte en die stories daaragter gedeel. Hier is Henry Hill aan die woord.
Die publiek word aangemoedig om ook tuis na moontlike familieskatte te gaan soek. ’n Ou foto, handgeskrewe brief, medalje, familiebybel of huishoudelike voorwerp kan ’n belangrike deel van ’n familie se geskiedenis bewaar.
Die Suid-Kaap-tak moedig families aan om hierdie voorwerpe en die stories daaragter te ontdek, beskikbare inligting op te teken en dit met toekomstige geslagte te deel.
Vir meer inligting, kontak die tak by [email protected] of besoek www.genza.org.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’