GEORGE NUUS EN VIDEO - Is die DA in George op die afdraande pad? Dit is vraag wat gevra word nadat die party verlede Woensdag 'n naelskraapse oorwinning in die munisipale tussenverkiesing in wyk 20, Borcherds behaal het.
Regina Windwaai van die DA het net agt stemme meer as haar naaste teenstander, Mercia Draghoender van Good gekry.
Rozain Hansen, die DA-veldtogbestuurder vir die tussenverkiesing, in wyk 20 het by navraag gesê dit wat in die tussenverkiesing gebeur het, is nie 'n aanduiding wat in die DA aan die gang is nie. "In die tussenverkiesing was dit 'n stryd tussen twee persoonlikhede. Ons is tevrede met die uitslag. Ons het gewen."
Die DA het 'n regverdige veldtog gevoer. "Dit is iets wat ander politieke partye by ons kan leer. Moekie (die suksesvolle DA-kandidaat) het verdien om te wen."
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê daar was baie plaaslike dinamika in die wyk wat 'n rol gespeel het. "Die politieke situasie in George is nie ideaal nie. Dit is daarom dat ek bly is dat James Selfe met 'n baie nouer hand gaan kyk waar die DA regeer. Ons is uitgesproke dat ons nie aan ons eie hoë standaarde voldoen nie en dit moet verbeter."
Opposisiepartye verskil egter van die DA oor die vertolking van die uitslag.
Shaun August, Good se nasionale organiseerder, het gesê die DA is op die afdraande pad. Dit is nie net in George nie, maar landswyd. "Hulle verloor beslis steun. Mense sien byvoorbeeld wat hulle aan Patricia de Lille en ander voormalige DA-lede gedoen het. Mense glo ook nie daar is transformasie in die DA nie."
Volgens hom streef Good daarna om beheer van verskeie munisipaliteite, insluitende George, oor te neem tydens die 2021-munisipale verkiesing.
Darryll Sauer, ANC-voorsitter in George, het gesê die DA is beslis op die afdraande pad. Daar is verskeie faktore wat 'n rol speel. Dit sluit in swak administrasie, beweerde nepotisme, oortydbetaling in die munisipaliteit van beweerde miljoene rande en die Valke se ondersoeke.
Daar is 'n persepsie by die kiesers. Dit lyk of die DA huiwerig is om op te tree oor beweerde korrupsie.
Volgens hom het al die opposisiepartye saam meer stemme as die DA gekry.
Virgill Gericke van die PBI het gesê die uitslag wys dat die DA steun, persentasiegewys, dramaties gedaal het. Dit wys voorts dit is nie meer 'n walkover vir die DA nie.
Die PBI het van nêrens gekom en minstens 11% van die stemme kry sonder dat hy kospakkies en T-hemde uitgedeel het. Mense het uit beginsel vir die PBI gestem en dit was nie 'n protesstem nie. Volgens hom is dit skokkend dat die armste mense steeds vir die DA gestem het, terwyl hulle steeds in plakkerskampe woon.
Kyk video's hieronder.
Die uitslag in wyk 20:
- DA 731 (32.56)
- ANC 512 (22.81)
- GOOD 723 (32.20)
- EFF 13 (0.58)
- PBI 258 (11.49)
- ACO 8 (0.36)
- Totale stemme soos deur die OVK verskaf: 2 245
- Stempersentasie: 59,16%
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'