GEORGE POLITIEKNUUS - Die voormalige Icosa-raadslid, Theresa Fortuin, is deesdae 'n aspirant-kandidaat vir die Good-party. George-speaker Gerrit Pretorius, het bevestig dat die munisipaliteit 'n brief van die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) ontvang het, met Fortuin se bedanking as raadslid.
Sedert verlede week het foto's van Fortuin in 'n oranje T-hemp van die Good-party op sosiale media opgeduik, wat haar lojaliteit aan dié party verklap.
Fortuin het by navraag gesê sy is baie opgewonde oor die nuwe hoofstuk in haar politieke loopbaan.
"Wat my inspireer is die feit dat die stigter van Good, Patricia de Lille, 'n vrou is wat weet wat dit beteken om as vrou in moeilike omstandighede haar skoene in die raad vol te staan. Die George-leiers van Good is baie betrokke in hul gemeenskappe en het geen bang haar nie. Die Good-mense krap en soek na dit wat verkeerd is."
Die nasionale organiseerder van Good, Shaun August, het by navraag bevestig dat Fortuin hul aspirant-kandidaat vir wyk 16 in Pacaltsdorp is. Hy verwelkom haar by hul party.
"Na haar bedanking uit Icosa het ek met haar 'n onderhoud gevoer. Ek is baie beïndruk met haar kennis oor die raad, haar liefde vir die gemeenskap en die veranderinge wat sy in die raad wil teweeg bring," het August gesê.
"Sy is 'n dinamiese, vriendelike persoon. 'n Mens kan sien sy is iemand wat baie omgee vir haar gemeenskap. Ons het nou dinamiet van 'n kandidaat in wyk 16."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'