TUINROETE NUUS - Tertuis Simmers, wat oorspronklik van die Suid-Kaap kom en noue bande met George het, bevind hom sedert Maandag in 'n ongewone posisie. Hy is nou die waarnemende DA provinsiale leier in die Wes-Kaap.
Albert Fritz, LUR vir gemeenskaps-veiligheid, is Sondag deur premier Alan Winde geskors hangende 'n ondersoek na ernstige aantygings teen hom.
Fritz, wat ook die Wes-Kaapse provinsiale leier is, het Maandag gevra om van sy pligte in die verband onthef te word en daar is aangekondig dat Simmers sal waarneem as provinsiale leier.
Simmers, die Wes-Kaapse LUR vir menslike nedersettings, het Dinsdag aan George Herald gesê geen mens wil op so 'n manier in so 'n verantwoordelike posisie kom nie.
"Ek moes vinnig aanpas, maar na 22 jaar in die DA in verskillende senior rolle kon ek die aanpassing redelik vinnig maak."
Simmers het benadruk dat Fritz self die versoek gerig het om tydelik van sy pligte as provinsiale leier onthef te word. "Dis tydelik en ek sal waarneem tot einde Februarie."
Volgens Simmers is die rol van leierskap om die party se doelwitte en strategiese planne op koers te hou.
"Voorts om al die DA strukture gedissiplineerd en gefokus te hou op die groot taak om Suid-Afrika te red en die inwoners se lewenskwaliteit te verbeter."
Simmers het gesê as daar bewerings van 'n ernstige aard kom, dan is die party in die spervuur.
"Baie keer verpolitiseer mense sulke aangeleenthede. Daar moet in gedagte gehou word dat die persoon wat die bewerings maak sowel as die persoon teen wie die bewerings gemaak word, regte het in terme van die wet van die land."
Tertuis Simmers, waarnemende DA-leier in die Wes-Kaap.
Hy wou nie kommentaar lewer oor die aard van die klagtes en die bewerings nie. Hy het na Winde se verklaring verwys wat Sondagaand uitgereik is.
Daar is nou 'n ondersoek aan die gang en daar word op die uitslag gewag.
Simmers het gevra dat die reg toegelaat moet word om sy gang te gaan. Hy het 'n beroep op ander politieke partye gedoen om nie politiek te speel oor die aangeleentheid nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'